e-pos:     judithdebeer@webmail.co.za 

                 openbaringe@yahoo.com


Openbaring 91
Jou geestelike voedsel.

25 Augustus 2007
http://www.openbaringe.co.za/ 

Judith de Beer
Of dit nou die sigbare of die onsigbare, die fisiese of die geestelike skepping is. Ek is en bly die alleen Skepper, die Instandhouer en ook die liefdevolle Versorger van My totale skepping in die hele oneindigheid. Vanaf die grootste middelson, tot en met die heel kleinste atoompie, daar is Ek onlosmakend deel van My hele skepping.

Alles het Ek op so ʼn wyse geskape en ingerig, sodat alles mekaar in hulle
verskillende ordes tot diens kan wees. So was die een hand die ander en op hierdie manier is Ek voortdurend besig om dwarsdeur My hele skepping, op ʼn indirekte
wyse, alles liefdevol te versorg.

Ook die mens met sy fisiese sterflike liggaam, is afhanklik van dit wat die materiële skepping bied. Ook hy sal dit op ʼn indirekte wyse van My, vir die voortbestaan van
sy liggaam ontvang. Maar wat die geestelike kant van die mens betref, is hy geskape na die beeld van My, sy Skepper en is daarom die draer van die onsterflike ewige
gees en daarom benodig die mens baie meer, as net die verganklike organiese voedsel vir sy sterflike liggaam.

Die mens benodig die onverganklike geestelike voeding wat sy ewige
volmaakte voortbestaan in die oneindigheid sal verseker. Adam het Ek
direk en met My eie hand geskape. Daarom het Ek aan hom die vermoë
geskenk om sy ewige geestelike voedsel direk vanuit My hand uit te kan
ontvang.

Aan al My kinders het Ek dieselfde vermoë geskenk. Daarom hoef hulle net hul hart
vir My te open, om hierdie lewende brood direk vanuit My Vader-hand te ontvang.
Ek sal dit in oorvloed aan hulle gee, wat dit opreg begeer.

Maar, helaas is daar bitter min wat van hierdie aanbod gebruik maak
en verkies hulle dit eerder om hulle geestelike voedsel, net soos hul liggaamlike kos, op ʼn indirekte en meestal ook nog ʼn tweedehandse wyse, uit ʼn wêreldse hand te ontvang.


Openbaring 92
Die Vader se doel met die Sabbat.

27 Augustus 2007
http://www.openbaringe.co.za/ 

Judith de Beer
Nie vir een oomblik het Ek my Goddelike wette na die aarde gebring om dit
op die mensdom met brutaliteit af te forseer nie en hulle sodoende in die
ellende in te dompel nie. Ek het wette van ordelike Liefde gebring, sodat die
mensdom in 'n veilige en gesonde omgewing in harmoniese balans met
sy naaste kon saamleef.

Maar nog altyd was daar die magliefhebbers onder die mensdom wat My wette tot hulle eie voordeel misvorm en misbruik het en dit meestal op 'n onmenslike wyse, onder die "bangmaakvaandel" van "God se wet" met skrik op die mensdom afgeforseer het.

Indien julle elke wet afsonderlik sou neem en dit in die fynste "detail" sou
analiseer, sou julle in elk van hierdie wette telkemale die liefde vir My, die naaste en ook jouself vind. Met die korrekte uitvoering hiervan doen elke mens dit wat hy
graag wil hê 'n ander aan hom moet doen.

Kom ons neem as voorbeeld die vierde gebod. Gedenk die Sabbat dat julle
dit heilig, maar in stede daarvan ontheilig baie dit met 'n gedurigdeur voorskrywing
en getwis onder mekaar. Alles wat in My oneindige skepping
in 'n goeie orde werksaam is verdien sy regmatige ruskans of Sabbat,
om sodoende hulle kragte opnuut te kan versterk. Selfs vir die kragte wat in
'n oënskynlike nimmereindigende toestand hulle taak verrig, is daar rus.

Neem as voorbeeld die aarde wat haar Sabbat in rus geniet daar waar dit winter op haar oppervlakte is. Ook die hart van elke lewende wese wat ritmies en oënskynlik nimmereindigend sy taak vervul. Na elke sametrekking van hierdie spier wat die
bloed deur die liggaam pomp, ontspan hy vir 'n oomblik volkome. Daarin lê sy rus.

Aan die mens het Ek nie net die slaap en ander vorme van rus gegee nie maar ook
 elke sewende dag om dit in rus en harmonie deur te kan bring. Nie as 'n dag wat
deur brutale wetgewing deur die een mens op die ander afgeforseer moet word nie, daarom raai Ek die baie wetgewers rakende die Sabbat aan dat hulle self rustig moet raak en dit geniet wat die ware Sabbat hulle bied.


Openbaring 93
Die wonder van volkome vry wees.

27 Augustus 2007 4:50
http://www.openbaringe.co.za/ 

Judith de Beer
Onder julle mense het julle die baie mooi gesegde wat as volg lui:
Wanneer jy iemand bemin, laat dit soos ʼn voëltjie vry. Indien dit na jou sal terugkeer, was dit altyd joune, indien nie, dan het dit nooit aan jou behoort nie.

Presies so het Ek in My oorgroot Liefde met julle gedoen. In volle vryheid het Ek My Vaderhand geopen om julle te laat gaan. Om julle vryheid volkome te kan verseker, gaan Ek nog ʼn stappie verder en moedig Ek julle aan, om alle mensgemaakte
koutjies en hokkies heeltemal te vermy.

Wat meer kan enigiemand begeer, dat ʼn liefling van hom, wat in volle vryheidsvlug
die ruimtes deursweef, sy vlug onderbreek, om met oorgawe te gaan land op die liefdeshand, wat in liefde oopgegaan het om hom in vryheid te laat gaan.

Dit is wat Ek van julle begeer, dat julle sonder enige dwangleerstelling
in volle vryheid van die gees, met oorgawe vir My kom sê:
“U is die alleen Liefling van my hart, Abba Vader, U het ek met my hele wese lief.”


Openbaring 94
Waak teen Lucifer se fantasiewêreld.

28 Augustus 2007 8:00
http://www.openbaringe.co.za/ 

Judith de Beer
By die minuut verwissel Lucifer homself van die een glansverskyning na die
volgende skittervertoning. Om die mens sodoende op ʼn leë en kunsmatige
dwaalweg te bring. Presies soos die illusie wat hy is, verdamp hy soos mis
voor die son, na elk van sy fopvertonings.

Alleen en oorbluf ontwaak die mens hierna op ʼn koue en eensame weg,
wat reguit na die hel toe lei. Ja, met behulp van ʼn kunsmatige god, het
die mens vir homself ʼn skynwêreld geskep, waarin hy kunsmatige geluk
en liefde probeer vind. So leef die grootste gedeelte van die mensdom,
in ʼn wêreld van illusie, waar hulle heeltemal tred met My en die ware lewe
verloor het.

Die mens se dae volg mekaar soos die een onwerklike droom na die ander
op en al wat nog konkreet vir hulle oorbly, is die harde klank van geld, wat
hoogs noodsaaklik is om die mure van hulle fantasiewêreld regop te kan hou.
Geen spoor van My Goddelike Gees sal te vinde wees in hierdie kunsmatige nabootsing van lewe en liefde nie.

Dit is van hierdie mense waaroor daar lank gelede geprofeteer is waarvan
geskryf staan, dat hulle waterlose wolke is wat hartstogtelik deur hulle eie
skandelike en bruisende begeertes aangedryf word, bome wat geen vrugte
dra nie. Daarom is hulle dwaalsterre, vir wie die donkerte van die ewige
duisternis vir ewig bewaar word.

Daarom waarsku Ek my geliefde kinders, om julle self te weerhou van hierdie
mense en dit wat hulle seepbel-wêreld bied.


Openbaring 95
Die gruwelhond se tydtelling van sy einde.

29 Augustus om 6:00
http://www.openbaringe.co.za/ 

Judith de Beer
Dubbel geseënd is die een wat geestelike seën van My verlang. Wysheid en die ewige lewe sal sy onverganklike loon wees. Vervloek is die een wat aardse skatte en rykdomme vir homself as ʼn seën opgaar, mot en roes het hy ewig vir sy siel geoes. Dit sal ook die loon wees van al die groot moondhede, wat hul sterkte en krag op die gesteelde rykdomme van ander
volkere gebou het.

Die huidige wêreldorde is soos ʼn uitgeteerde hond, wat in vraatsug ewiglik nooit genoeg kan kry nie, omdat hy met die mees onreine parasiete besmet is. So bly
hierdie aasdier met sy snoet snuffelend op die spoor van My uitverkore volk. Selfs haar bruidskat probeer hy nog deur alle eeue kaap, om homself tot die koning van
die aarde te kan kroon. Ja, met die ster van Dawid wil hy homself tot die ewige koningskroon. Met die gesteelde ster van Suid-Afrika op sy hoof, probeer hy om dit aan die wêreld te toon.

Goed weet hy, dat oral waar My kleine Sion se voetjies trap, daar is die aarde met ontsaglike rykdomme geseën. Waar sy haar handjies vrolik die lug ingooi, daar het
Ek die ruimtes met My Liefde geseën. Waar sy ookal oor die waters vaar, daar laat
Ek dit van alle lewe wemel, ook daar waar sy haar ploeg inslaan, daar laat Ek die
grond van vrugbaarheid oopbars.

Maar vir die gruwelhond, wat nou vir homself ʼn gelykenis van sy afgod
op sy plein opgestel het, vir hom het die tydtelling van sy einde begin.
Daarom sê Ek, wee die aarde wat hierdie magliefhebbers dra.


Openbaring 96
Die skynverlosser is in julle midde.

30 Augustus 2007 6:00
http://www.openbaringe.co.za/ 

Judith de Beer
Waak en bid, die skynverlosser van die wêreld is in julle midde. Wee die bewoners
van die land van duisternis, wat die lig en die lewe met geweld van hulleself afweer
en die wapen sal opneem om die laaste draers van God se lig van die aarde te
probeer afvee.

Ja, ʼn ongekende duisternis is besig om soos ʼn versmorende sak op die aarde neer
te daal. Vanuit hierdie donker nag tree die antichris koning openlik na vore, om sy
baie kort heerskappy oor ʼn verlore wêreld te kom volbring.

Sag soos ʼn lam, sal hierdie verskeurende wolf, vanuit sy nag na vore tree en ʼn valse helpende hand na ʼn vinnig verbrokkelende wêreld uitsteek, om sodoende die laaste moontlike ligkandidate vir sy duister koninkryk te kan win. Hierdie poging van hom
sal egter jammerlik misluk en woedend sal hy nou in sy ware gedaante oprys, om
met die hulp van sy tallose misleides, my lammers te kom verskeur.

Daarmee saam sal die profesie in vervulling gaan, waar daar geskryf staan
dat daar twee broers sal staan en Ek een sal aanneem en die ander een sal verlaat.

Ja, die een broer sal die ander een oor My Naam haat en die duisternis sal alles in sy vermoë doen om die lig uit te kan doof. Maar My hand van beskerming sal Ek persoonlik oor elk van My ligdraers hou. In ʼn stikdonker nag sal die genadelamp van God, soos ʼn jong opkomende son, in die harte
van My uitverkorenes skyn.


Openbaring 97
Wat opgaan sal altyd weer afkom.

31 Augustus 2007 7:00
http://www.openbaringe.co.za/ 

Judith de Beer
Daar is ʼn baie ou natuurwet wat soos volg lui, dit wat opgaan sal altyd weer afkom.
Dit maak nie saak hoe ver ʼn voorwerp in die ruimtes ingeslinger word nie, hierdie materie sal met groot verlange na sy moederskoot terugkeer. Presies dit is wat nou besig is om te gebeur na die mens se dom en onverskillige proefneminge, om meteoriete van hul bane te probeer skiet.

As voorlopers van ʼn baie groot vyand, wat die aarde vanuit die ruimtes nader, sal
die wetenskaplikes as ʼn voorsmaak, eers hulle eie terugkerende rommel in die
ruimtes gewaar. Hierdie inligting sal hulle egter van die mensdom weerhou.

Kom ons bly voorlopig eers by die groot aankomende gevaar, wat in aantog na die aarde is. Wat inderdaad ʼn dodelik vyand vir die mens, maar ʼn vriend in nood vir die aarde is, wat deur My self gestuur word, om die ashoop omskepte aarde te kom
reinig. Ja alles omtrent die aarde het onrein geword, selfs buite haar atmosfeer dryf daar mensgemaakte rommel rond.

Die atmosfeer self het dik van die gifgasse geword, wat onophoudelik in haar ingepomp word. Om van die besoedeling op haar oppervlakte en ook in haar
dieptes, asook die see en al haar waters, nie te praat nie.
Ja, die skone aarde is in ʼn sieklike en liederlike rommelhoop omskep,
wat dit onmoontlik vir haar maak om toekomende geslagte te kan huisves.

Ja, die mens se selfsugtige vraatsug het alle ordes kom versteur en die skoonmaker vanuit die ruimtes, kom met geweldige winde om die aarde weer skoon te vee. Met geweldige aardbewings sal alle vuilis weer in die dieptes van die aarde ingeploeg word en groot blokke ys sal dit wat onrein is, vanuit die atmosfeer kom absorbeer, voordat dit die see en land sal tref.

Die mens sal sy dors met sy eie gif moet les. So sal die "vyand vriend" ʼn ashoop-
aarde in ʼn goeie komposhoop kom omskep, waaruit nuwe lewe weer vars sal ontspring. So word ʼn nuwe paradys weer vir toekomende geslagte voortgebring.

My opregtes sal Ek in die tyd van gevaar met my Eie hand bewaar.
Hulle sal die ouers van hierdie nuwe geslagte wees.


Openbaring 98
Die enigste ware doop.

1 September 2007 8:00.

http://www.openbaringe.co.za/ 

Judith de Beer
Nêrens is daar iets vreemd of sinister aan die pad wat Ek van My kinders verlang
om te loop nie. Maar eenvoudig en reguit is die pad wat in waarheid en liefde na die Vaderhuis toe lei. My kinders sal dadelik My Stem herken,
in die korrekte aanwysing van hierdie weg.

Net soos met die Sabbat, is daar baie twisgeskille onder julle oor die doop. Daarom gaan Ek julle kort en kragtig hieroor inlig. Soos hoeveel male tevore sê Ek nou weer dat Ek die mens met ʼn vrye wil toegerus het. Daarom kan elkeen na sy eie
goeddunke handel. Waar een egter met die Wysheid en hulp van My Gees gaan handel, daar gaan dit die korrekte optrede wees.

Besluit daarom self of julle in hierdie tye nog deur die hand van ʼn mens met water gedoop wil word en of julle wil nader staan om direk die lewendmakende doop
vanuit My Gees, wat nou onder julle is, te ontvang. Wat terselfdertyd ook as ʼn ewige salwing en toetrede tot die Melgisédek-orde sal dien.

Slegs ʼn persoon wat werklik met My Gees vanuit die hemele gesalf is, het die nodige outoriteit om ʼn medemens in My Naam te kan doop. Sulke persone is en was nog
altyd ʼn rariteit. Deur die eeue, is daar biljoene mense deur mense gedoop, wat geen gees van watter aard ookal besit het nie. Al hierdie dopery was en is leë rituele wat
van geen waarde is nie.

Enige volkome opregte kind van My kan egter kom nader staan om deur My Self, sy Verlosser, met My Gees van Liefde en Waarheid, tot die ewige lewe gedoop te word.


Openbaring 99
Die gehate klein Boervolk

2 September 2007

http://www.openbaringe.co.za/ 

Judith de Beer
Nog nooit was daar ʼn volk so diep gehaat deur die hele wêreld as julle
klein Boervolk hier in die Suidpunt van Afrika nie. Waar julle ookal onder
My seën oopgeblom het, daar is julle met jaloesie en naywer vervolg.

Wat Ek julle ookal gebied het, dit het die selfaangestelde grotes van die wêreld nog altyd vir hulleself toegeëien en julle van dit beskuldig, waaraan hulle self skuldig
was, naamlik om ander se eiendom vir hulle eie gewin toe te eien.

In julle groot naïwiteit het julle maklik onder hulle fyn lis geswig. Terwyl die hele
wêreld op die groot verdrukking sit en wag, het dit reeds lankal in Suid-Afrika, met
die toepas van sanksies begin. My volk, wat deur My van alles voorsien was, het in swakte geswig.

Vir ʼn belaglike Esau-loon, het hulle hul Godgegewe erfporsie aan ʼn verrotte wêreld verpand en dit met die oorgrote meerderheid onder julle, se goedkeuring. Die paar
wat wanhopig hierteen gekant was, is deur almal as agterlik versmaad.

Maar onder ʼn paar wat verblind was, het Ek opregte berou gewaar. Daarom laat Ek
toe dat hulle hulself weer by My opregtes skaar. Die skeiding tussen My skape en
die wêreld se bokke is byna voltooi. Al loon wat daar vir hierdie kruipers oorbly, is
om die spot met julle te dryf. Die naklank van hul spot sal leeg na eie oor terugkeer,
ja, die spotter sal met sy eie gespot bespot word.

Aan My klein uitverkore groepie sê Ek egter, terwyl die wêreld self onder die groot verdrukking gaan, wat hy vir ander voorberei het, sal die einde van julle verdrukking
in sig kom. Reeds staan My verlossings- (doodsengel) gereed om sy sekel in te slaan en groot gaan sy oes onder julle vervolgers en verraaiers wees.

Aan die res van My opregte volgelinge wat hulleself wêreldwyd bevind
wil Ek ook die versekering gee, dat ook julle na veiligheid gebring sal word.


Openbaring 100
Visioen van die doodskis.

2 September 2007 13:30
http://www.openbaringe.co.za/ 

Judith de Beer
Ek het onverwags die volgende helder gesig gehad.
Donkerkleurige mans met Moslem dotjies op hulle koppe het haastig met ʼn doodskis op hulle skouers in die rigting van die Noorde van Afrika gedraf. Een van hulle het soos ʼn "rasta tipe" gelyk. Langs hulle was ʼn blanke ruiter op ʼn rooibruin perd in volle galop en agter het ʼn baie outydse swart Ford- bakkie gekom- een van die wat nog ʼn houtbak opgehad het.

ʼn Paar reuse- swart afskuwelike hande het vanuit die niet verskyn en ʼn groot stad begin vermorsel en platslaan. Daar was 'n prominente glasgebou wat uitgestaan het. Skielik het daar ʼn ultramoderne staalloop verskyn en die reusehande het die loop vasgegryp, maar ʼn reuse koeël het reeds uitgeglip, binne hierdie koeël was eienaardige ysterballe wat die heeltyd van kleure verander het.

ʼn Vrou in ʼn Voortrekkerrok het skielik verskyn, sy het baie ernstig voorgekom.
Haar hele gesig, behalwe haar oë, was met lappe toegebind. Haar oë het soos twee ligstrale geskyn. Sy het my kop agteroor gebuig sodat ek in die ruimte moes inkyk.
Ek het ʼn geweldige voorwerp oor die aarde sien skuif wat ʼn totale verduistering veroorsaak het.

Nadat dit weer weggeskuif het, was die hele aarde pikswart verbrand.
Die bome wat verbrand was, het pikswart silhoeëtte teen 'n rooi lug gemaak.