
e-pos: judithdebeer@webmail.co.za
Openbaring 591
Nou is daar menig selfmoord-springer.
Woensdag 25 Februarie 2009 07:10
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Waar O waar is nou die wêreld se bose Mammon-gelukbringer.
Die aandelemark ry wipplank op om net te val.
Nou is daar menig selfmoord-springer.
Oor die hele wêreld klink nou swartgallig
die lied van Satan se bose demoniese singer.
Soos bure wat die heeltyd kwaadwillig na mekaar wys
met `n beskuldigende vinger.
Word daar wêreldwyd op die nuusbulletin
nou oor en weer van mekaar geskinder.
Hul sê; kyk hierdie of daardie land se geld word net al hoe minder.
Nou poog hul om ons op elke ekonomiese gebied
met in en uitvoer die heeltyd te verhinder.
Die wêreld wys nuusflitse van Afrika se ondervoede kinders.
Hul vertel mekaar die stomme goed is maerder as die dood so tinger.
Hul sê deur pes en vigs raak hierdie kontinent se populasie
stadig maar seker net al hoe minder.
Hul sê deur Afrika se onvermoë
is dit hulle wat die wêreld in sy ekonomiese groei so hinder.
Soos `n sprinkaanplaag baar hul net al hoe meer nog honger kinders.
Daardeur raak die graan in die wêreld silo’s net al hoe minder.
Maar woedend wys die armes op hul beurt na die rykes
hul beskuldigende vinger.
Hul sê hierdies wou mos die heeltyd van die een rykdom
na die ander fladder soos `n vlinder.
Agter `n bak hand wil niemand meer diplomaties beskaafd
van mekaar meer skinder.
Openlik vyandig wys die moondhede na mekaar
nou ook die beskuldigende vinger.
Satan lag terwyl sy lied oor die wêreld weerklink
uit die mond van sy demoniese singer.
Ja, hy lag terwyl hy die wêreldbevolking na hom in Hades gebied
met sy gekromde wysvinger.
Op hierdie noot begin die aarde weer droewig
om haar eie wentelbaan te slinger.
Die oordeelsengele sê:
Daar is niks meer oor wat ons nou in ons taak verhinder.
Versnel die tyd draai nou vinniger die heelal horlosie se slinger.
Trek die beskermingslaer om God se kinders in al nouer kringe.
Kom ons blaas in hul midde die ramshoring
en bring na vore hul heel beste koordansers en hul sangers.
Sodat hul aan Elohim die hoogste lof en eer
as suiwer offer nou nader kan bring.
Daar is niemand onder die heerskappy van Lucifer
wat die naderende oordele oor die wêreld nou langer meer kan verhinder.
Openbaring 592
Die spieëlbeeld van God.
Dinsdag 26 Februarie 2009 07:00
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Die mens is die heeltyd op soek na die een of ander wonderwerk of teken,
maar juis is die totaliteit gekonsentreer as `n teken, in die kleine
nietigheid
van die vleesgebore mens. So het daar eens lank voor alle tyd se ontstaan
hemelwesens aan Elohim gevra: toon aan ons U self vanuit U onuitspreeklike,
onaanskoulike liefdeslig, al is dit deur `n teken, sodat ons U beeld vas kan
vang,
om dit so te kan bewaar, vir elke oomblik in U oneindigheid waar ons na U
verlang.
Die groot Pottebakker het besluit;
uit die kleine aarde se klei sal Ek vorm iets soos MY.
Met My eie gees sal Ek dit toerus om in die oneindigheid as My
verteenwoordiger
te kan staan dig teenaan My Sy.
So sal Ek ewig deur hul mond My grote liefde aan My hele Skepping kan bely.
Maar die gevalle seun van lig het hatig hierdies hul posisie beny.
Listig het hy hul in sy bose dooie donkerte in laat gly.
Maar die goeie Skepper het besluit hierdie kosbare D.N.A stukkies van MY,
kan Ek ewig nooit in die duisternis laat agterbly.
Daarom sal Ek self in die materiële beeld van My gaan bly.
Aan `n vloekhout sal Ek die grootste pyn
tot redding vir My kosbare bloudruk gaan ly.
Ek sal hul leer om deur My gestorte bloed tot ewige oorwinning te kan stry.
Die hele oneindigheid was oor hierdie grootste teken nou baie bly.
Oor die hele oneindigheid het die lig geweet om die duisternis te alle tye
te vermy.
Maar nou kom staan in hierdie tyd die grootste teken ook voor My.
Hul vra so baie mooi aan My, toon U self weer aan ons
en maak ons harte daardeur baie bly.
Ek vra aan hul waarom hul so lankal die spieël met My beeld daarin so vermy.
By hul hand neem Ek nou hierdie kosbare bloudruk stukkies van My.
Ja, Ek neem hul na die groot goddelike spieël en sê:
Kyk nou daarin jul kleine verlengstukkies van My,
in die spieëlbeeld voor jul sien julle die heeltyd nog net vir MY.
Openbaring 593
Die tyd het gekom vir die doodsklok.
Vrydag 27 Februarie 2009 13:00
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
In trotse hoogmoed staan die hele wêreld nog steeds
verwaand.
Daar is niks maar niks wat hulle net so `n bietjie kan beskaam.
Trots sê hul daar is geen oordeel hoegenaamd wat ons ooit kan kom vermaan.
So spaar die moeite om ons iets oor die eindtye te laat wil verstaan.
Vir elke oordeel wat daar oor die wêreld ontstaan.
Daarvoor het ons lankal reeds deur die slimme wetenskap `n plan beraam.
In lang lyne kom vele mense nou voorkomend vir entstof staan.
Die vrees vir moordkieme het by die meeste mense reeds lankal weggetaan.
Voorspel `n doemprofeet `n aardbewing gaan daar oor die aarde gaan.
Antwoord die wêreld rustig:
Deur die rigterskaal word ons betyds teen vloedgolwe vermaan.
Die wêreld spot en sê daar is geen grote God wat ons regtig teen kom staan.
Vir elke kataklisme, ja, vir elke noodtoestand
het ons voorkomend lankal reeds `n plan beraam.
Die wêreld lag en sê dalk is die oordeelsengele lui
of dalk is hulle net `n bietjie skaam.
Miskien is hul spiere te sag om behoorlik hard te kan slaan.
Hoe dit ookal sy ons is magtig en laat ons nie deur ouvroustories kom
vermaan.
Binnekort laat ons ook elke doemprofeet weet waar hulle met ons gaan staan.
So raak die lankmoedige geduld van die Skepper
met `n bose wêreld nou ook gedaan.
Hy laat aan elkeen van Sy werkers weet
draai nou heeltemal oop elke oordeels kraan.
Laat daar niks meer wees wat in versagting in julle arbeidsveld kom staan.
Open die watersluise van die hemel en laat daar baie weerlig op die aarde
slaan.
In vuur en nogmaals vuur
moet die mens die waarskuwings van God nou begin verstaan.
Open die hemelweg van die maan se baan,
sodat groot getygolwe die stede langs sommige kuste kan stukkend slaan.
Laat daar oor die een helfte van die aarde die ergste vuur en hittegolwe
gaan.
Oor die ander helfte moet die drinkwater vries in menig baie kraan.
Laat ook die kos en brandstofpryse opskiet sodat niemand dit meer kan
verstaan.
Versterk die pes en laat dit oor die mens en dier se vlees nou gaan.
Laat die waters van die aarde in verrotting bitter alsem oor die planeet nou
staan.
lank genoeg is die wêreld populasie oor en oor vermaan.
Maar skoorvoetend het `n wêreld minagtend voor God kom staan.
Ja, die tyd het gekom
en dit is die doodsklok wat daar nou oor die oppervlakte van die aarde
slaan.
Openbaring 594
Satan was nog altyd selfgesentreerd en laak.
Saterdag 28 Februarie 2009 10:30
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Laggend praat die duiwel met homself en sê:
Binnekort sit ek die hele wêreld met een skuif in skaak.
Hy tik homself selfvoldaan op die skouer en sê:
Die hele wêreld lê vir my tot `n oes nou oop en braak.
Ja, binnekort laat ek hordes op hierdie wêreld staak.
Maar Mammon vra: Ek is jou bondgenoot waarom neem jy nou op my jou wraak.
Satan lag en sê: Niemand weet beter as jy
elke daad van my was nog altyd selfgesentreerd en laak.
Oorbodig raak ook jy nou binnekort in jou eens grote taak.
Daar is niks wat jy of enige iemand kan doen omtrent hierdie saak.
Maar hierna frons die duiwel en sê: al wat my nog so `n bietjie pla,
is `n kleine pion wat onopsigtelik maar gevaarlik waak.
Alles werp ek in die stryd en kort voor lank stel ek hierdies ook aan die
kaak.
Vir die mensdom is daar niks meer oor wat hul kan doen
om die lewe `n bietjie beter te kan maak.
Van vroeg tot laat, ja, van soggens tot saans
is al wat leef en beef besig om stukkend te skeur.
Oor al die goedheid wat hul eens nie kon waardeer,
is hulle nou besig om droewig oor te treur.
Hul kla en sê waarom moet al hierdie slegte dinge die heeltyd met ons
gebeur.
Ons het tog dikwels probeer
om van die heel slegste sondes afkeurend weg te beur.
Maar onder `n swaar selfopgelegde wêreldvrag
moet hierdies maar net moeitevol voortbeur.
Maar aan My moedige kleine pion stuur Ek `n boodskap om hulle nou op te
beur.
Daar kom `n tydperk waar die aarde sal rus van elke vorm van Satan se
terreur.
Daar sal niemand meer wees wat oor enige onreg sal treur.
`n Kleine kleuter sal homself met `n eens giftige slang vermaak.
Niemand sal hul daaraan steur of daaraan dink
om so `n kleintjie te beskerm of te bewaak.
Die leeu sal saam die lam wei sonder om hom in leed aan te raak.
In hierdie vredevolle tyd word alle oorloë en rusies vir ewig gestaak.
Ja, niemand gaan meer teenoor iemand staan boosaardig en laak.
Soet sal wees die mens se slaap, ja, so volmaak die vaak.
Sodat Jakob se droomgesig in sy nakomelinge kan ontwaak.
Engele sal met `n wysheid geestesleer
tussen hemel en aarde volbring hul goddelike taak.
Geen bose sondes meer om te kom staan vir die duiwel se saak.
Vir `n duisend jaar word Lucifer gebind as die eindtyd draak.
Openbaring 595
Die Bybelse vrou Rut en haar bloedlyn.
Sondag 1 Maart 2009 06:30
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de beer
Jy kom met die volgende vraag na My en wil meer weet omtrent die Bybelse
vrou Rut asook haar bloedlyn, wat deur baie gekoppel word aan die
Moabitiese volk. Terwille van `n bietjie gesonde oefening vir die brein,
sowel as die ontwaking van die gees, beantwoord Ek jou vraag met die
volgende veronderstelling en ook `n teenvraag: Ter inleiding herinner Ek
jou ook net weer daaraan dat in die opgetekende oorlewinge van die
oer testamentiese figure, sover terug soos tot en met Abraham en selfs
verder, het hierdie manne as gevolg van hul rondtrekkende nomadiese
bestaan, vir hulself vroue, tot voortplanting van hul saadlyn, vanuit hul
eie bloedlyn, uit ander landstreke gaan werf.
Wat terselfde tyd `n aanduiding is dat hierdie spesifieke bloedlyn reeds
lank gelede
oor `n wye gebied verspreid was.
Maar om terug te keer na jou vraag en die hede: Neem as `n voorbeeld
jouself.
Meer as driehonderd jaar gelede het jou voorouers, hulself hier aan die
Suidpunt van Afrika kom vestig. `n Paar eeue later probeer jy
ter nagedagtenis van hulle, en terwille van die nakomelinge, desperaat
om jou oorspronklike identiteit te behou en sodoende klassifiseer jy jouself
onder die vaandel van die Boervolk, om die suiwerheid van jou bloedlyn
daardeur te kan bewys. Maar die res van die wêreld beskou jou na meer as
driehonderd jaar as `n goed gevestigde Afrikaner, boonop toegerus
met `n eie taal, wat nie net vir julle nie, maar ook onder ander
bevolkingsgroepe,
onder Afrikaans, as `n kommunikasie taal dien. Onder die huidige politieke
stelsel
word dit nog `n stappie verder gevoer en almal in hierdie landjie
anderkant die riviere van Kus, word nou onder een oorkoepelende sambreel,
as `n een reënboognasie geakkommodeer.
Veronderstel nou jou ridder op sy witperd maak sy verskyning
vanuit een van die Saksiese volkere, vanuit jou oeroorsprong. Hy maak jou
sy bruid om net `n paar jaar later sy tydelike aardse woning met die van
die ewige te verwissel. Jou seer geliefde skoonma, wat haar ook in die
tussentyd by julle gevestig het, besluit deur die verlies van haar geliefdes
nou verbitterd, om terug te keer na die land van haar oorsprong.
Jy besluit om saam haar te gaan na `n land wat baie geslagte gelede die
vaderland van jou voorsate was. Jy verwittig haar nou ook daarvan met die
volgende bekende woorde: ek gaan waar u gaan, u volk is my volk en u God
was nog altyd my God. So gesê so gedaan en kort voor lank arriveer julle
in die land wat in die toekoms ook jou land sal wees. Spoedig begin die
bure die nuwe intrekker druk te bespreek en jy word sonder omhaal die vrou
van donker Afrika genoem en heel moontlik gaan daar oor `n paar geslagte
heen, na jou verwys word, as die donker vrou van Afrika. Nou vra Ek jou:
Wat maak hierdie stelling nou van jou, en watter groot implikasie kan dit
nie hê op jou suiwer oeroorspronklike bloedlyn nie.
Daarom antwoord Ek jou:
Dink daaroor en antwoord jou vraag in volle eerlikheid nou aan jouself.
Openbaring 596
Die vissers van Satan.
Maandag 2 Maart 2009 07:00
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Halsstarrig hou die menigtes hulself nou eenmaal dom en blind.
Deur massa manipulasie laat hul hulself so maklik bind.
Vir variasie waai hulle van die een na die volgende voorgeskrewe geloof
so koersloos soos die wind.
Om nooit dit waarna hulle hunker in werklikheid te kan vind.
Deur geloofstrukture laat hul hulself deur onbreekbare kettings bind.
Voorgeskrewe sisteemraamwerke hou hul siel ewig in `n gevangenis gebind.
Om ewig nooit die goddelike vryheids wysheid te kan vind.
In die duister wêreldkerk(ers) hardloop menigtes sonder enige vryheid
die heeltyd in hul eie selfgeskepte mure in.
Vir hul siel tot verlossing is daar in hierdie tronke geen vryheid te vind.
Hul geestelike leiers merk die vryheidsvlug van God se kind.
Onvergenoeg vind die wêreld se geestelike leiers
die vryheidsvreugde van hierdies ook glad nie na hul sin.
Slu poog hul daarin om die vryheidskind
in hul drogleerstelling vas te kan bind.
Deur bose lokaas probeer hul om die vrye adelaars
in `n vanghok te laat klim.
Ge-eikte bybelversies laat hul nou aan hul bose hoeke bind.
Op Internet en traktate, ja, oral gooi hul die aas
om die goddelike kennis te kan verwring.
Deur herhaling probeer hul deur breinspoeling
om die mense aan hul leerstellings vas te bind.
As vissers van Satan probeer hulle
om die vrye kind van God vir die hel te win.
Openbaring 597
Alle politieke partye lieg met leë beloftes.
Dinsdagoggend 3 Maart 2009 05:45
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Wanneer kry die mens ooit eendag `n bietjie insig en
verstand.
Ja, wanneer leer die mens ewig nooit loop God en politiek hand aan hand.
Deur onnoembaar baie politieke maneuvers sit die mensdom nou in drek
gestrand.
En oproerig oor hierdie situasie
raak die hele wêreld binnekort aan die brand.
Al wat regering is, is reeds totaal bankrot, ja, finansieël gestrand.
Maar met leë beloftes
lieg elke politieke party vir hul ondersteuners altyd nog net blatant.
Die politieke slagspreuk lui: Gee ons julle ondersteuning
en onder ons regering in jul beurs het jul binnekort meer geld
aan die einde van die maand.
Ja, hulle lieg en sê: Gee ons julle kruis
en sonder misdaad wandel julle kort voor lank weer veilig in die aand.
Die leiers van die verskillende politieke partye lig hul lip.
Hul knor en wys mekaar nou hul gevaarlike tand.
Hul hap na die nie- gerigestreerde
en insinueer; sonder die trek van jul kruis is jul vir ewig gestrand.
Wat het julle in elk geval oor,
deur die politiek het jul reeds alles verloor- ook jul land.
So poog elke politieke party om God te speel
oor mens, dier, see en land.
Hul sê: Onttrek julle laaste bietjie geloof van God
en kom smee met ons `n smerige politieke band. `
Hul lieg en sê: Na julle belange sal ons kyk
solank jul net jul siel vir die wêreld verpand.
Maar in Hades raak hierdies kort voor lank
ewig in hul eie politieke wellus gestrand.
Ja, in `n wêreldbrander verdwyn vinnig
elke wêreld politieke naam,
kortstondig geskryf in die wêreld se sand.
Die paar wat nie deel het aan die wêreld
sal hand aan hand, ewig met My saamstap
aan die oneindige hemelwand.
Openbaring 598
'n Mummie met 'n papegaaikop.
Woensdag 4 Maart 2009
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Die volgende eienaardige tafereel speel in 'n visioen voor my af.
Ek sien 'n mummie met 'n papegaaikop geklee in 'n outydse Romeinse rok.
Hy staan in die pous se plek en herhaal die woorde wat sy wêreldordemeesters
hom voorsê. Sy aanhangers hang aan sy lippe en op hulle beurt herhaal hulle
goedkeurend weer alles wat hy sê.
Eenkant in die lug hang 'n engel en herhaal weer wat hulle sê met dié
verskil
dat hy die woord "vals" voor elke woord invoeg.
So klink die woorde van die eerste mond tot die laaste.
Oplossings, oplossings, oplossings, valse oplossings.
Vrede, vrede, vrede, valse vrede.
Genesing, genesing, genesing, valse genesing.
Hierna vat die engel alleen die woord, waarop hy namens almal praat en sê:
Dood, dood, dood, daar is geen valse dood,
die hele wêreld word van nou af van alles gestroop.
Openbaring 599
Vergeef ons maar en draai jou wang.
Woensdag 4 Maart 2009 19:00
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Tussen twee geliefde broers was daar eens 'n ernstige geskil aan die gang.
Terwille van die liefde en die vrede
draai gedwee die een vir die ander een sy wang.
Hy laat vaar sy eie plan, sy voorkeur en sy drang.
Geduldig laat hy sy broer in liefde gaan sy gang.
In skaamte laat die ander een sy kop nou hang.
Weg is al die tweespalt, ja, die nyd, die nare rusiedrang.
So het Ek ook my leerlinge eens kom leer om in broederskap
haat met liefde te vervang.
Maar deur hierdie einste les, het Satan deur woordverkragting
die kinders van die lig kom vang.
Met 'n verdraaide woord maak hy deur sy kerke toe baie mense bang.
So klink die valse engel van die lig se bose sang.
Ja, Satan sing: Wees vir alles, selfs jou eie skaduwee nou bang.
Jou geloof en liefde vir jou God moet jy met vrees vervang.
Onderdanig moet jy toegee aan elke begeerte en sonde van jou vyande se
drang.
Dit wat vir jou heilig is moet jy ten koste van jouself laat gaan.
Listig lispel die slang;
op elke gebied moet 'n kind van God hom deur kwaadwilliges laat vang.
Ja, hy lag en sê: Draai vir selfverdediging maar net jou ander wang.
Met diefstal, verkragting en moord word jul volkie elke dag vir die dood
gevang.
Maar raai; die dominee en die kerke sê:
Vergeef en draai maar net die ander wang.
Anders raak jul God dalk kwaad en kom hy julle as die booswigte vang.
Hul laster deur te insinueer dat God sy ewebeeld kom leer
om vir ergste gruwels maar net te draai hul ander wang.
Maar die gemeentes is so pateties bang
dat hul maar aan die droglippe van hul predikers hang.
So gaan 'n verrotte wêreld in 'n verrotte tyd sy verrotte gang.
Maar vinnig nader die tyd dat slim sy eie baas kom vang.
Die verdraaiers van God se woord gaan aan hul gruweltonge in Hades hang.
Satan se helhandlangers gaan hul onophoudelik ewig slaan en sê:
Vergeef ons maar en draai maar net jou ander wang.
Openbaring 600
O Abba Vader ontferm U oor my.
Donderdag 5 Maart 2009 18:30
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Deur U verlos van wêreldsondes voel ons so van onsself
gedrein.
Abba Vader in ons swakheid staan ons voor U nou so baie klein.
Ons wil ons leë sondaarsharte vul met U liefde en bely:
O God ewig is U nou myn.
U bloed het U gestort daarom raak ook ek nou skoon en rein.
Soos U grote liefde wat oor al U ewighede skyn.
Wil ook ons U liefde na U skepping om ons uitsein.
In die gestalte van `n gerespekteerde mens wou ons U behaag
maar U sê: Staan maar liewer nader- so `n bietjie plein.
Grote woorde wou ek in my liefde na U toe sein.
Maar weer antwoord U: Bid maar liewer tot My soos `n kindjie klein.
Eens het ek lank gelede voor U gekniel in my kleutergebedjie so goed
getrein.
Maar die onskuld daarvan het verlore geraak op my wêreld lewens sondes
trein.
Daarom bid ek nou tot U vanuit my allerdiepste grein.
Met die woorde van my eerste gebedjie
probeer ek nou kinderlik my liefde na U uitsein.
Ja, ek bid en vra; O Abba Vader ontferm U oor my, U kindjie klein.
Maak my hartjie asseblief tog skoon en rein.
Sodat ook ek U grote liefde met my kleine liggie in `n donker wêreld
tot eer van U uit kan sein.
![]() |