
e-pos: judithdebeer@webmail.co.za
Openbaring 381
O was ek maar net `n doudruppel...
Donderdag 17 Julie 2008 23:30
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Ag al sou ek maar net `n doudruppel in U skepping
hier op aarde kon wees. U son van Liefde
sou U mildelik oor my laat skyn. Sodat ek `n straal
van U Goddelike glans, in my waterdruppel hart kon opvang.
U goddelike liefde sou ek in my oomblik van glorie,
oor my kleine omgewing laat skyn.
Die tenger grassprietjie waarin ek in my oomblik
van ekstase sou hang, die sou ek in my sterwens oomblik,
in my val na benede, ja, met die vog van my lewe,
daarmee sou ek sy tere wortels benat.
Die onsterflike Goddelike glans, sal hy nou as voedsel
na sy blaartjies toe vat .
Op sy beurt sal die tere plantjie in naasteliefde,
haarself offer as voedsel, aan `n herkouende koei.
Die sal weer op haar beurt,
lewensmelk aan `n kleine mense baba bedien.
Die lewensvonk van God se glans sal jy nou in sy
ogies kan sien. Kragtig sal hierdie kind opgroei,
om God se liefdeslig in `n baie donker wêreld uit te kan straal.
O was ek maar net `n doudruppel om `n ligstraal
van U liefde op te kon vang.
Openbaring 382
Moenie op valse profete en swendelaars vertrou.
Sondag 20 Julie 2008 21:00
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Alte lekker lag die duiwel vir die mens in sy mou.
Met bykans alles is die mens voortdurend besig
om te knoei en te verbrou.
Van die oggend tot die aand
is hul besig om hul eie graf te grou.
Die mantel van geloof
dit wil hul willekeurig rondswaai,
om al wat `n afgod is daarin toe te kan draai.
Die eie gewete probeer hulle om die hele tyd te paai,
terwyl hul toelaat dat die bose,
onkruid, tussen hulle goeie saad saai.
Hul God, die is hul besig om te versmaai,
terwyl hul hulself in die kalklig
van die wêreld en die duiwel baai.
Die wysers van die einde is vinnig besig
om na die einde toe te draai.
Vir die wêreld gaan daar wees,
geen positiewe ommeswaai.
Oral gaan daar nou wees sensasionele leerstelling,
wat elk op sy eie mishoop wil koning kraai.
Derduisende navolgers gaan tot hul ewige ondergang
in hierdie bedrogspul braai.
Aan elke idool wat die mens se pad nou kruis,
aan hierdies wil hul die siel en gees nou toevertrou.
Ja, op elke tweede swendelaar,
wil menigeen sy volle geloofsoortuiging bou.
Op mens en leerstellings,
wil kamma gelowiges die hele tyd vertrou.
Aan die hand van `n mede swakke mens,
wil hul vir geloofsekerheid vasklou.
Elke geit en gier wat die wêreld bied,
dit wil hul met Goddelike verering aanskou.
Bitter min is die wat die oë gerig op hul Skepper nog hou.
Met `n wêreld wat vinnig besig is om te verbrokkel en vergaan,
is nog steeds die massas se geloof in God maar baie flou.
Daarom verkies hulle om die oë op valse profete te hou.
Voortvarend wil hul die goddelike seën oor hulle eie hoofde hou.
Maar die Goddelike toorn,
dit is wat hulle in groot skrik gaan aanskou.
In groot getalle wil die mens nou skuil
om vir hulself `n geloofsvesting te bou,
maar hul vergeet dat God vir hom slegs `n huis
in die hart van `n opregte gelowige bou.
Moet daarom nie op mense en prinse vertrou,
maar alleen op jou God moet jy jou vertroue hou.
Wil jy aan die hand van `n mens vir jou geloofsekerheid vasklou,
of wil jy jou oë gerig op Jou God en Skepper
vir jou ewige saligheid hou.
Openbaring 383
Keer na My Gees in jou hart.
Maandag 21 Julie 2008 01:00
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Preek en nogmaals preek,
dit wil die mens van vroeg tot laat,
ja, van die oggend tot die aand,
vir sy naaste die hele tyd afsteek.
Ywerig word daar die hele tyd gepreek, pret en plesier,
rook en drank, seks en elke sondige gier,
daarmee moet die mensdom nou vinnig breek.
So wil elke predikant en lekeprediker tog te graag,
vir elke sondaar hier kom leer,
terwyl hul met skynheilige gesigte,
die eie sonde vir die wêreld toesmeer.
So besig is hulle om die sonde van hul naaste weg te keer,
dat hulle skoon daarvan vergeet,
om die mensdom van My grote liefde te kom leer.
Elke sondaar wat homself, in sy volle liefde na My toe keer,
by elk van hulle sal Ek persoonlik kom oopbreek,
die sonde van die bose sweer.
Sodat elke kind gereinig deur My liefde,
hulself nou na My heilige koninkryk toe kan keer.
Vir Wysheid moet die mens,
homself, na My Gees in sy eie hart toe keer.
Vinnig sal hul weet, om deur 'n reine lewe, My, hul God te eer.
Openbaring 384
Massas word verlei.
Maandag 22 Julie 2008 23:30
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
In China is die laaste fakkel,
wat daar op hierdie aarde gaan brand.
Vanuit Afrika slaan eentonig `n donker trom
'n Engel roep verstom, O' God waarom'?
Die wêreld staan verruk verstom,
hul held, die antichris, is aan die kom.
Vanuit Irak tot in die verre Japan en Pakistan,
roep `n eenwêreldorde, vrede! valse vrede!,
vir elke vrou en man.
Ja, spottend roep die draak,
laggend oor die hele wêreld luid,
Satan kom vir homself `n enorme oes,
vanuit die mensdom buit.
Massas word verlei, om ewig weg te vaar,
op die hel se verdoemenis skuit.
Groot die oorwinning vir die slang.
Maar bitter kort, sy tragiese heersers tyd.
Geweldig vir die eindtyd stryders,
is hul smartvol stryd.
Maar as ewige oorwinnaars,
klim hulle uit die laaste bloedige kryt.
Vele getroue kinders
gaan deur die ergste verdrukking ooit, nie kan sterwe.
Gereinig as die eindtyd oorwinnaars,
gaan hulle die nuwe aarde van God beërwe.
Openbaring 385
'n Visioen van klippe en rotse
Dinsdag 22 Julie 2008 02:30
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
In `n droom visioen kyk ek op na die hemel en sien hoedat `n streep
klippe en rotse in `n reguit lyn, skuins deur die aarde se atmosfeer kom.
Ek wys met my vinger daarna en skreeu 'kyk'. Dit is so werklik dat ek
aan `n jongman wat skielik langs my staan vra, is dit werklik of sien ek
`n visioen? Waarop hy antwoord, dit is werklik en dit is wat op die aarde,
in die toekoms wag.
Hoe lank is die toekoms wou ek weet.
Hy het gelag en gesê dat God se kinders sal weet.
Openbaring 386
Maar grynsend lag die dood.
Dinsdag 22 Julie 2008
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Vogtig gaan die Ooste stoom,
oor Indië en sy bure kom die ergste monsoon.
`n Tolwind wat homself tot `n monsterstorm kloon,
Amerika gaan homself as `n erge rampgebied vertoon.
So staan menig land nou nader vir hul loon.
God gaan nie een van hulle verskoon.
Op Afrika wag die ergste hongerloon.
Droewig gaan die klaaglied wees van die bederlaarstoon.
Oral op die wêreld gaan riviere hulle banke en walle oorstroom,
van soveel sterftes en ellendes het niemand ooit kon droom.
Selfversekerd staan die wêreldhulpfonds nader onder groot vertoon.
As `n 'god' wil die wêreldraad van kerke en die Rooikruis
hulle self nou kom toon.
Grynsend lag die dood,
hy kom om almal nou van alles te verskoon.
Alle pogings is vir hom die van `n moroon.
Sy sekel swiep en slaan,
alles om hom maak hy met vuur en water skoon.
Ja, branders gaan wyd oor die land uitsoom.
heeltemal te laat gaan dit vir menigtes wees,
om nou hul berou aan God te toon.
Openbaring 387
Die verguisde uitgesoekte volk.
Woensdag 23 Julie 2008 20:00
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Stukkend gebreek lê die kruik van seën,
verpletterd lê die skerwe oor die hele wêreld heen.
Met `n Vaderhart wat weemoedig ween,
het Ek `n uitgesoekte volk aan ander volkere uitgeleen.
Ja, `n kruik gevul met belofte en seën.
As `n sluitsteen, wou Ek die Hoeksteen,
hul aan die mensdom uitleen.
Waar ookal hul, hulself bevind,
het die seën in oorvloed net oor almal uitgereën.
Maar `n vloek oor die aarde,
dit is wat almal oor hul meen.
Jaloers in haat staan elke volk hul op hierdie aarde teen.
In die eindtyd wat nou oor die aarde kom,
gaan vanuit hierdie volk my missiedraers blom.
Verguis, vertrap gaan hul as oordeel oor hierdie wêreld kom.
In die hand van God,
sal elkeen van Sy stukkend skerwe veilig kom.
Ja, herstel as die mees volmaakte kruik
deur God se liefdesgom.
Volmaak verseël sal Sion weer,
as God se nuutgevulde kruik,
as goddelike seën, na die nuwe aarde kom.
Openbaring 388
Die laaste geloof taan weg.
Vrydag 25 Julie 2008 10:10
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Vinnig is die laaste geloof in God besig om weg te taan.
Wanhopig kyk ook die uitverkore kinders,
na hul God met `n moedelose traan.
Die ergste kwaad is nou die beste goed,
so laat die duiwel almal baie mooi verstaan.
Verblind deur wêreldglans,
kom menigtes nou in die lyn van Satan staan.
So bitter min is die wat nog weet of hul kom of gaan.
Alleen sal die kinders van God in hierdie tye staan.
In ongeregtigheid is die hele wêreld besig om nou te vergaan.
Ja, so min is die wat tussen al die kwaad,
nog iets van God se goedheid wil verstaan.
In `n tyd wat moeilik vir hul is,
om selfs iets, van hulself te kan verstaan,
ja, in hierdie tye moet Ek gedurig nog My kinders kom vermaan,
om so vas soos `n rots vir hul geloof te bly staan.
Deur `n mengelmoes van alles wat die wêreld op sy kop laat staan,
sal hul met My hulp, vir hulself, `n weg
tot fisiese en geestelike oorlewing moet oopbaan.
Moeilik gaan dit ook vir Myne in hierdie tye gaan,
maar menigte van engele stuur Ek om hulle by te kom staan.
Vinnig, baie vinnig gaan ook hierdie tyd vergaan.
As oorwinnaars gaan My kinders, oor hierdie wêreld staan.
Openbaring 389
Die woord van die leuen se gevolge.
Saterdag 26 Julie 2008 09:00
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
In die begin was die Woord en die Woord was God.
In sy groot liefde was elke gespreekte Woord
`n volbringde daad en alles het hul gestalte en orde
volgens die Woord van God aangeneem.
Aan alles wat lewe het God `n kommunikasie kanaal,
elkeen, volgens sy eie soort gegee.
Aan Sy ewebeeld het die Skepper die woord op die mens
se tong gegee. Maar ook die "slang" het met sy valse woord,
oor die mens se tong kom vee.
Daarom het die Woord tot redding van die mens, Homself
met vlees kom klee, om sodoende as `n tweesnydende swaard,
die leuen van die waarheid te kon skei. Daar is niks so buigsaam
soos die gespreekte of geskrewe woord nie. Die weergawe
daarvan, neem altyd die identiteit aan, van die gewer daarvan.
`n Venynige identiteit, bied `n woord, met `n geniepsige byt.
So keer `n sagmoedige persoonlikheid, met dieselfde woord,
die grimmigheid af. Ja, een en dieselfde woord tussen `n groep
mense, gaan vinnig uiteenlopende reaksies ontlok. Uit een
geskrewe stuk, gaan daar `n paar verskillende betekenisse kom.
Elke mens gaan daaruit tevoorskyn bring, wat hy binne homself,
as die waarheid of die leuen huisves. Met tragiese gevolge probeer
baie om hul eie siening van die Woord, as die waarheid, d.m.v
manipulasie en met geestelike geloofsgeweld, aan andere
te bedien. Vanaf die mens se oerbestaan, ja, vanuit die mees
antieke tye, het die mens probeer om deur middel van visuele
beelde, sekere begrippe, op klip, klei, vel en later ook papier te bring.
Om sodoende latere geslagte, in aanraking met hul oeroorsprong
te kon bring.
Elke latere waarnemer hiervan, het sy eie konteks hieruit
te voorskyn gebring. Hoe meer beskaafd die mens geraak het,
hoe meer verfynd het sy skrif geraak en elke begrip het in
letter en klank oorgegaan. Soos die lied van `n voël se gesang,
het die woord, soet of bitter tussen die mens kom hang.
So het die mens die waarheid, met die leuen kom vervang.
Maar soos wat Ek die woord as kommunikasie na die mens
se tong gebring het, so het Ek ook in My wysheid, as teenvoeter
vir die kwaad, My Gees van waarheid na die mens se hart gebring.
Om sodoende die mens, na die eet van die vrug, van kennis van
goed en kwaad, met My hulp en waarheid, by te kon staan.
Welke woorde die pad van die mens ookal kruis, daarmee moet hy
na die binnekamer van sy eie hart gaan. Na die graad van sy lig
of duisternis, sal elke woord vir hom bring, sy waarheid sy vreugde,
of die leuen, met die gepaardgaande ellende en droefenis.
Openbaring 390
Ontelbaar baie siele word verblind deur liggelowigheid.
Maandag 28 Julie 2008 05:00
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer
Listig kom die duiwel nou as die mens se kwansuis vriendelike vennoot.
Lieftallig-besorgd doen hy homself voor as die wêreld se grootste
filantroop.
In hierdie tye het hy homself van sy duister gelaat gestroop.
Homself in `n skyn en valse lig tot verleiding van die wêreld gedoop.
Om sodoende op homself te bou `n blinde wêreld se laaste hoop.
Deur gesondheidsorg en kos is hy besig om die armes se siel te koop.
Deur goud en glans het die rykes van die aarde
hulself lankal reeds aan hom verkoop.
Gelate is dit die massas wat verwonderd agter die duiwel aanloop.
Hy kul hul hier en hy kul hul daar,
met politiek het hy `n hele wêreld blind getoor.
In hul eie liggelowigheid het hy hul ewige ondergang gestoor.
Pronkerig dirigeer Satan self die selfmoordlied van die eenwêreldkoor.
Ritmies kom die klank van `n wêreldbevolking wat hulself gaan uitmoor.
In elke uithoek van die wêreld word hierdie lied van die dood aangehoor.
Daar is niks maar niks wat die snelle verloop hiervan dood kan smoor.
Alles maar alles in die mens se siel raak godverlate en goor.
Terwyl industriële masjinerie eentonig tevergeefs
vir `n sterwende aarde rykdomme oopboor, lag bulderend die duiwel,
die valse wêreldvriend, ja, die grootste filantroop.
![]() |