e-pos judithdebeer@webmail.co.za


       
 openbaringe@yahoo.com  


Openbaring 21

Ek is die Hoeksteen.

15 Junie 2007 20:30

http://www.openbaringe.co.za/

 

Judith de Beer

Huidiglik is daar ’n paar onder julle wat van ’n dringendheid binne julleself bewus raak. ’n Ongekende opgewondenheid heers in julle gees,

terwyl jou hart skaam aan jou fluister “ek weet ek is ook Sy kneg”.

Omdat julle bang is om voorbarig te wees, onderdruk meeste van julle hierdie gevoel met ’n te oordrewe nederigheid.

 

Deemoed is wel van die grootste belang om as een van my dienare werksaam te kan word. Die tyd is egter nou ryp om My dapper en met ’n bietjie waagmoed te nader en jouself as ’n kleine kneg beskikbaar aan My te kom stel.

Daar is wel ander met hope potensiaal wat hulleself vrypostig as leiers wil aanstel. Maar My guns gaan op die val wat My uit opregte liefde met hart en siel daar wil dien, waar ander nie voor kans sien nie.

 

Bly dus met julle voete plat op die aarde, terwyl julle met die hand uitreik na die hoogste pieke in My ryk, en terwyl julle harte die onmeetlike dieptes van My Liefde binnedring. Ja, julle, My uitverkore geliefdes, vir wie Ek ewighede gelede hierdie tyd
en plek in gereedheid gebring het.

Open daarom die heilige tempel in die sentrum van jou wese,

sodat Ek binne kan tree en julle deur My mag en krag diensbaar kan maak.

 

Ek is die Hoeksteen en julle die sluitstene en daarmee sê Ek dat julle die kontakpunt tussen die gees en alle materie is. Saam sal julle een groot kommunikasiesiel wees waardeur My Alomvattende Gees in al Sy skeppings sal spreek. Maar as geliefde enkelinge sal Ek elk van julle, My kinders, volgens sy eie wese bemin.


Die, op wie hierdie boodskap van toepassing is, sal My boodskap hierin baie goed verstaan.



Openbaring 22

Spreuke 31 en Hooglied.

16 Junie 2007

http://www.openbaringe.co.za/

 

Judith de Beer

Vraag:

Hoe moet ons die verwantskap tussen die deugsame en besige vrou in
Spreuke 31 en die speelse, romantiese en diep beminde bruid in Hooglied
verstaan?

 

Antwoord:

O My sielsbeminde, met jou het Ek flankeer,

jou skoonheid deur eeue met lof besing.

Deur ewighede heen het My liefdeslied vir jou orals heen gedring.


As my bruid kom Ek jou haal.

As ’n deugsame vrou, kom jy jou plek volstaan.

Met jou onskuld en skoonheid het jy My eers bekoor.

Met vlyt en deug is jy nou almal voor.


Eers as maagd en nou as koraal,

kom Ek jou as volwasse vrou haal.



Openbaring 23

Alles het sy prys.

17 Junie 2007 om 14:00

http://www.openbaringe.co.za/

 

Judith de Beer

Soos ’n dronkaard na ’n aand se vrolike gefuif

vir homself ’n eentonige liedjie oor en oor sing.

Net so doen ’n dronk oorversadigde ryk wêreld

en die lied van hul woorde lui as volg;

“alles het sy prys, alles het sy prys!”

 

En terwyl die klank van kasregisters oudmodies raak

en plastiekkaarte orals indring,

word Ek as ’n ou vergete winskoop agter op ’n rak gebring.

Onversadigbaar is die ekonomie besig

om alles voor hom te verslind,

om dit maar net weer netjies verpak op te bring.

 

Robotte wat eens mense was,

word in die draak se legkaart ingepas.

Alles het sy prys.

So kom ook My woord spottend op hul lys.

Al waarna die wêreld noop

is om te koop en te verkoop.

 

Meedoënloos word ’n kosbare siel verpand,

by die blote aanblik van goud en rand.

Regterbanke die ruik na omkoopstank.

Daarop rus die wêreldbank.


Met swier en groot vertoon

stel die rykaard homself ten toon.

Spottend vra hul na My prys,

om ook te kom op My sogenaamde hemellys.

 

Met klatergoud word vir hul gebou,

ʼn goedkoop gekkeparadys,

waaruit Lucifer se hel angswekkend uit gaan rys.

Beangs gaan hulle hier vanuit krys,

O God maak tog U prys

en kry ons vinnig weer hier uit.


Maar al wat hul gaan kry,
 is Ek, wat ewiglik gaan swyg.



Openbaring 24
Geloofsgenesing.
18 Junie 2007 om 08:00

http://www.openbaringe.co.za/

 

Judith de Beer

Vandag gaan ons oor geloofsgenesing praat en daar gaan baie wees wat jou
hieroor aan die keel gaan wil gryp. Steur jou maar nie te veel daaraan nie, dit
berei jou slegs voor op baie erger dinge wat mense jou nog in die toekoms aan
sal wil doen.

 

Om terug te keer na die punt, julle leef in ʼn wêreld, waar vele na liggaam en siel baie siek is. Ek word dan ook meeste van die tyd verwyt so asof Ek die oorsaak van alle siektes is. Vies keer die kranke My ook vinnig die rug toe en wend hom na die baie slim mediese wetenskap vir genesing.

 

Boosaardige siektes is geweldig aan die toeneem, as gevolg van die menslike ontwikkeling, wat niks ontsien in die versteuring van die baie delikate ordes in die natuur nie, is meeste van hierdie siektes ongeneeslik. En nou praat ons nie eers van die giftige chemiese prosesse waaraan die mensdom blootgestel is nie.


Gewoontevormende misbruikers pomp teen hulle beterwete hierdie gifstowwe teen
ʼn geweldige tempo in hulle eie liggame in en is daarom self vir hulle siektetoestand verantwoordelik. Ek hoor al klaar een of twee wat mor en sê “ja, maar wat van die onskuldiges, veral die kinders wat nie daarvoor gevra het nie”. Vir julle sê Ek: wees geduldig, ons kom daarby.

 

Die baie siek persoon draai nou onverrigter sake by sy dokter om.

My – die Vader, se genesende vermoëns wat eers versmaad is, kom in die

mooi woorde van “alternatiewe genesende metodes”, nou by ons pasiënt op.
Van die heel vinnigste bekerings vind nou plaas en hierdie persoon ontpop as
ʼn “baie diep gelowige” wat My nou “nederig” nader en genesing word van My
geëis. Met ʼn “geloof” wat nou berge kan verskuif en begelei van hope
“sms gebede”, is ons pasiënt nou deeglik voorberei.

 

In meeste gevalle is daar van genesing geen sprake nie en nou begin die kranke
in sy eie geloofsvermoëns te twyfel en die eerste beste geloofs- geneesheer word nader gesleep. Wanhopig word alle geloof nou op hierdie mens, in plaas van My, geplaas en omdat daar nou tog sprake van ʼn mate van geloof aanwesig is, laat Ek
in sommige gevalle genesing toe.

 

Hierby wil ek aansluit deur te sê dat geen genesing moontlik is waar die geloof nie eerstens in die siek persoon self teenwoordig is nie. Ek, as die grootste geloofsgeneesheer van alle tye, het met My verblyf op aarde, slegs dié genees wat
die nodige geloof binne hulleself gehuisves het.
Dit is waarom spontane genesing dikwels sonder enige dreunende gebede by
kinders plaasvind. Omdat hulle ʼn skoon naïewe geloof in My, hulle Vader het,
dat Ek hulle wel sal genees.

 

Daarom sê Ek vandag aan julle, My kinders, wie My in sy hart dra, dra ook reeds alle genesing binne homself en dat dit vir julle onnodig is om soos ʼn ongelowige na ʼn volgende persoon te hardloop, sodat dié hom met sy geloof moet genees. ʼn Ware geloofsgeneser sal hom eerstens oor die onsterflike siek siel kwel, voordat hy
aandag aan die siek verganklike liggaam sal gee.

Aan my ware kinders, wat in hierdie eindtye onder My verskillende gawes werksaam sal wees, sê Ek met Liefde: “wees versigtig oor dit wat julle in die Gees begeer”.



Openbaring 25

Die oes het ryp geword.

19 Junie 2007 07:00

http://www.openbaringe.co.za/

 

Judith de Beer

Ons het al voorheen gepraat oor die gordyne wat voor die allerheiligste

kennis in julle harte hang en vandag gaan ons ’n bietjie meer aandag

hieraan gee.

 

Met My liggaamlike afsterf op Golgota het die fisiese gordyne voor die allerheiligste plek in die tempel meegegee. Wat niks anders was, as die simboliese vernietiging
van die leuen wat gebaseer was op ’n leuenagtige verdraaiing van ’n ou waarheid
nie.

Terwyl die tempel My kinders gedwing het om My, “God”, met ’n verwronge nougesetheid te dien, maar terselfdertyd geen steen onaangeroer gelaat het om My, die Seun van die mens, met haat te vervolg nie.

 

Omdat die mense van daardie tyd geslagte lank deur die tempel gemanipuleer was
en geglo het dat hulle as minderwaardige wesens nie bevoeg was, of die reg gehad het, om direk met My, hul Vader, te kan kommunikeer nie, het Ek self, in die persoon van ’n mens na die aarde gekom, om hulle die oë van hul harte te open.

 

Geesdriftig met My kruisiging, het die blinde skare die tempeldienaars

ondersteunend toegejuig “weg met Hom, kruisig Hom” en met die laaste

uitblaas van My asem, het die grootste wonderwerk ooit plaasgevind.

Ontelbaar baie blindes het vanaf Adam dwarsdeur die eeue tot in die verre toekoms, die vermoë gekry om hul blinde oë te kan open en verwonderd uitgeroep: “Hy is waarlik die Seun van God”. Om sodoende die waarheid van die leuen te kan onderskei.

 

Satan het oor ’n lang periode van oor die 2000 jaar, stelselmatig weer met sy ou beproefde resep na vore gekom en die mens se oordeelsvermoë kom beperk met
die hulp van ’n onbuigbare en rigiede leerstelling, wat deur kerke met politieke agendas, op die mense afgedwing word met duisende moets en moenies.

Hierdeur het hul oë weer dof geword en die lewende vonkel van My Liefde daarin
is uitgedoof.

 

Met die glans van goud, word daar vir hul ’n Mammon gebou.

Hoe dieper die mens die ingewande van die aarde indring om mineraal,

metaal, asook energiebron voort te bring, so trek die bose hoëpriesters

van hierdie industriële aarde weer die gordyne dig voor die allerheiligste

in die hart van die mense.

 

Maar aan My geliefdes se Ek weer: Weet dat Ek op Golgota, julle die vermoë gegee
het, om met geweld hierdie leuenagtige gordyn af te ruk,

sodat julle met lewende vonkelende oë waaruit My Waarheid skyn, in die blinde
dooie oë van jul broers en susters kan kyk en hulle daardeur

siende kan maak. Hierdeur word julle die voorlopers van My wederkoms,

wat My teenstander die mees gevoelige slag gaan gee. En hiermee sê Ek aan julle:
My knegte, die oes het ryp geword, raak daarom vlytig werksaam.

Amen.



Openbaring 25 (a)
Visioen van 'n spierwit wolk.
19 Junie 2007 20:00
http://www.openbaringe.co.za/

 

Judith de Beer

Ek lê op my bed en dink. Die volgende oomblik raak ek weg soos in ʼn diep
narkotiese slaap en is oombliklik die volgende oomblik so helder by my bewussyn soos nog nooit voorheen in my lewe nie en ek staan regop in my helder verligte kamer.

 

In die middel van my kamer begin iets soos spierwit rook verskyn, ek kyk intens daarna en sien dat dit digte mis is wat besig is om in ʼn spierwit wolk te verander.
Ek is hoogs verbaas dat ʼn wolk in my kamer aan die ontwikkel is. Skielik is daar ʼn ontsettende blye besef en wete in my hart dat dit die Gees is. Dit is vir my
terselfdertyd so ʼn groot skok dat dit voel of ek weer my bewussyn verloor en onmiddellik lê ek weer op my bed.


Openbaring 25 (b)
Visioen oor energiestrale.
21 Junie 2007 23:55
http://www.openbaringe.co.za/

 

Judith de Beer

Ek skrik wakker om net hierna die gevoel te kry dat ek my bewussyn verloor.
Skielik lê ek op my rug en met my kop agteroor, lê ek in die hemel en staar.
Meteens begin daar ontelbaar baie ongeveer 4 duim lange blou weerligstraaltjies vanuit die hemel kom en is oral om my. Tussen hulle is daar duisende woorde.
Skielik neem die letters die gestalte van hierdie blou weerlig straaltjies aan.

 

Al die letters van die baie woorde verander in hierdie lewende vibrerende
energiestrale wat die mooiste ligblou kleur het. Direk hierna word aan my gesê
dat die skeiding in alle mense klaar plaasgevind het en dat dit wat die oorheersende faktor binne hulle is, die ondergrond gaan vorm van dit waarop elke mens in hierdie tyd gaan staan en dat elkeen se handeling daarvolgens gaan wees.



Openbaring 26

Satan se grootste les ooit.

20 Junie 2007 03:00

http://www.openbaringe.co.za/


Judith de Beer

Stadig het die tyd die wiel laat draai en dié is besig om nou alles fyn te maal. Waar Satan My in die verlede in alles teengestaan het, om daardeur soos die een of ander oorwinnaar te kan voel en hy altyd deur My gewaarsku en gemaan is oor sy gedrag, word hy nou bloot in alles met die grootste stilte vanuit die hemele getroef. Dit laat hom in bose woede ontvlam waarin hy homself heeltemal uit gaan brand.

 

In hierdie tyd van alle tye het Satan die hele bose hel met die volle inhoud

daarvan soos vanuit ’n reuse sak op die aarde uitgekeer en terwyl hy nou

op ’n soortgelyke reaksie wag, tree ’n stilte in die hemel in, wat elke engel,

groot en klein, die hoof in baie groot ontsag laat sak.

 

Met groot vertoon en baie swier, pronk die duiwel soos ’n goedkoop pou

op ’n wêreld loopplank op en neer. Die massas wat hom opgewonde toe applous,
kan hom glad nie meer stimuleer omdat God se stilte hom uitermatig irriteer.

 

Met groot geluid word daar karnaval gehou met bloedig oorlogstuig en soos ’n kind wat klappers skiet, laat hy kernontploffings as proefneminge op land en see gebeur om daarmee die aandag na hom te keer. Weereens gee dit hom ’n lae hou wanneer
My groot stilte hom omvou. Woedend soos ’n brullende leeu kyk Satan nou moorddadig om hom heen om iets van My te kan verskeur.

 

Tierend kom sy blik nou op My nederig groepie neer. Geruisloos soos ’n reuse slang probeer Satan onoorspronklik om My ook te vang.

Maar nou is dit Ek wat die groot stilte kom verbreek. Niemand maak een van My kinders seer Ek self kom Satan die grootste les ooit leer



Openbaring 27

Elia.
22 Junie 2007 12:30

http://www.openbaringe.co.za/

 

Judith de Beer

Eens op aarde in ʼn tyd van nood, met ʼn baie groot droogte het My profeet gekom.
By die spruit van Krit het hy gesit. Daar het my woord na hom gekom.


Vanuit weduwees’ huis, na Agabs’ troon, daarheen sal jy gaan. Met twaalf klippe
sal jy weer My altaar bou, voor volk en koning sal jy Baäl verslaan. Op jou wenk sal
ʼn droë aarde weer sy dors kan les. Aan die einde van sy aardse
pad is Elia in ʼn stormwind na die hemel opgevat.

 

Weereens het My engel as profetemens na hierdie aarde toe gekom. My pad het hy gelyk kom maak. Vanuit droë woestyn het sy stem luid geklink: Verbly jou Sion, verfrissend soos die reën is jou Verlosser aan die kom. Oorwinnend het die doper
se dooie hoof as oordeel vir hoer en leuen in ʼn
koningsaal bly lê.


Nog een maal- dit is nou, sal My profeet na hierdie aarde, vir My, sy ewig Koning
kom. In menig raadsaal sal jy seëvierend in My Naam, almal met ʼn droogte kom vermaan. Met twaalf klippe sal jy weer uit Sion vir my ʼn altaar bou. Lewend uit die dood sal Ek jou weer op jou voete, op laat staan, om oorwinnend nog een maal,
jou weg na My, jou Vader te kan baan.



Openbaring 28

Klein en plein is hul gekies.

22 Junie 2007 om 16:30

http://www.openbaringe.co.za/

 

Judith de Beer
Geseënd was Mirjam as ʼn jonge maagd. In vlees het sy My kom baar. Klein en rein
was sy gekies Sodat Gods wil deur haar kon geskied. In kindernood het sy My
gebaar. Om haar heen was My hele engeleskaar.

 

Geseënd is Sion as ʼn kleine skaar. In My Wysheid kom hul My woord nou baar.
Klein en plein is hul gekies. Sodat God se spraak deur hulle kan geskied. In eindtydnood word Ek uit hul hart gebaar. Om hul heen sal wees- My grote
engleskaar



Openbaring 29

Die koningin van Skeba.

24 Junie 2007 22:00

http://www.openbaringe.co.za/

 

Judith de Beer

In My antieke tye het daar ’n baie besonderse vrou geleef wat oor ’n baie vrugbare
en ryk landstreek in die suide van Afrika geheers het. Hierdie land en koninkryk was van die mees vrugbaarste en geseëndste ryke ooit. Dit het egter voortdurend vir hierdie koningin bly voel of daar nog iets was, wat onvolkome was. Gedurigdeur
was sy besig om haar ryk met die van ander koninkryke te vergelyk. Goud, koper
en ivoor, asook allerhande

handelaars was volop.

 

So was ook die nuus wat hulle van oor groot dele van die wêreld na haar gebring
het. Gerugte van die baie wyse en ryk Salomo was dan ook vinnig die middelpunt
van haar totale belangstelling. So opgewonde soos ’n kind wat op heerlike lekkernye wag, net so het sy in afwagting gelewe vir brokkies nuus, oor die koning van Israel.

 

Dit was ook nie lank nie of daar was met groot voorsorg gereed gemaak om met ’n baie groot karavaan belaai met die kosbaarste geskenke, die bykans onmoontlike
lang tog, na die landstreek van koning Salomo te begin. Gedetermineerd het hierdie betreklike jong koningin van Skeba, met haar groot gevolg, hierdie reis suksesvol afgehandel.

 

Baie gevlei het die ietwat verwaande Salomo hierdie vrou vanuit die suide gasvry ontvang en soos ’n onversadigbare spons het sy die vernuf waarmee hy sy land regeer het, asook die wyse waarop hy die regstelsel, weermag en handel behartig
het, ingedrink en die infrastruktuur van sy stad het haar gefassineer.

 

Ja, alles het haar bekoor. Dit alles het sy met die fynste detail geabsorbeer. Niks
van sy wysheid het haar ontgaan nie en baie vinnig het sy tot die slotsom gekom
wat die ware Wysheid agter Salomo se wysheid was. Skalks het sy by haarself geglimlag en in haar hart het ’n loflied soos ’n fontein ontspring.

En dit het as sulks gelui:

Groot, ja baie groot is die God van Israel wat orde en reg na Sy volk deur Salomo bring. Lief, ja baie lief het Hy hierdie volk “van Hom”.

 

Die koningin van Skeba het haar antwoord gevind, tevrede en oorlaai met baie geskenke het sy terugwaarts gekeer. Maar haar mees kosbaarste geskenk was
hierdie lied in haar hart, wat sy saam met haar terug na die

suidelike deel van Afrika gebring het, waar dit geheimsinnig in die stiltes

van die eeue tot en met vandag behoue gebly het.

 

Vanwaar dit in hierdie tyd van die tye, tot ’n getuienis van haar, weer klokhelder
vanuit die suide van Afrika opklink:
“Groot, ja baie groot is die God van Israel, wat orde en reg, ja ook vrede na Sy volk deur Liefde en Wysheid sal bring. Lief, ja baie lief het Hy hierdie volk van Hom”.


Openbaring 30

Deur leuens is die leë illusie koning.

25 Junie om 16:30

http://www.openbaringe.co.za/

 

Judith de Beer

Niemand in die oorkoepelende wêreldordes en instansies glo regtig in My of My Waarheid nie. Ek is bloot vir hulle handig om My, as ʼn beheerinstrument
oor die massas te misbruik. ’n Verwronge skuldgevoel word deur baie wette in die mense gekweek en in “My Naam” word daar besluit wat is reg of verkeerd. Die mensdom word daardeur soos ’n klomp siellose outomate beheer.

 

Ek, wat Liefde is, word as ’n monstergod van donder en oordeel, as ’n beheermiddel gebruik en daar is baie wat die einde van hulle lewenspad met vrees afwag omdat hulle daarvan oortuig is dat Ek hul slegs inwag om hulle in ’n poel van vuur en swael te werp. Dit omdat hulle hier en daar versuim het om ’n mensgemaakte wet te gehoorsaam. Daar is derduisende politieke instansies, opvoedkundige instellings, kerke en sektes, ja te veel om op te noem, wat almal met hulle duisendvoudige moets en moenies elke lewende skepsel op hierdie planeet soos in ’n poppespel wil beheer.

 

Die mens, ja die kroon van My skepping, het die vermoë om vir homself te kan dink
en te besluit oor dit wat die waarheid is, bykans heeltemal verloor.

Daar is baie wat nou manmoedig sal opspring, sy Bybel of een of ander riglyn sal
gryp en baie verontwaardig en met ’n bewende vinger sy “waarheid” vir jou sal
uitstip, om maar net weereens daardeur te bewys

dat hy géén vermoë besit om enige waarheid, oorspronklik vanuit homself,

na vore te kan bring nie.

So gebreinspoel is die mens dat hy nie eers agterkom dat hy ’n dooie kneg

van ’n dooie letter, van ’n wêreldwet geword het nie. Daarom sal slegs die een wat
die Lewende Waarheid in homself dra, die vermoë hê om die waarheid uit elke leuen
 te kan haal. Van die leuen sal daar niks oorbly nie, omdat die leuen op sigself niks is nie.

Waar die een wat die leuen in homself huisves, weer nooit die vermoë sal besit om
die leuen uit die Lewende Waarheid tevoorskyn te kan bring nie, omdat dit
onmoontlik vir die suiwer waarheid is, om die leuen in homself te kan huisves.

 

Ek sluit hiermee af deur te sê, dat slegs die wat My Lewende Waarheid binne
hulleself dra, die vermoë sal besit om die waarheid hierin te kan herken.