Heelwat lesers ondervind probleme met die Openbaringe blad. ʼn Moontlike oplossing
 mag wees om Mozilla Firefox of Google Chrome soekenjins te gebruik.
 Die alternatiewe blad is nog nie volledig nie.

 
 
            Alternatiewe Webblad
           
           
http://www.profesievanjudith.
co.za


           

 
Judith de Beer kan gekontak word op:
              judithdebeer@webmail.co.za

           
             openbaringe@yahoo.com  

Judith de Beer is gebore in Baberton op 20-05-1958.
Sy het grootgeword as die dogter van ‘n spoorwegwerker
en beleef ‘n stormagtige en rebelse jeug.
Sy druip haar standerd 6 jaar op skool en sluit haar skoolloopbaan later
met ‘n praktiese sertifikaat af. Met geen akademiese agtergrond nie
is die enigste beroep wat sy ooit beoefen dié van huisvrou.
Haar belangstelling is om vanuit rommel iets bruikbaars te skep.
Sy ontvang vanaf 30 Mei 2007 die Innerlike Woord.

Judith de Beer is ’n eindtyd boodskapper wat onder geen leiding van enige
menslike denkrigting staan of aan enige organisasie, instansie, sekte of
kerk behoort nie. Sy ontvang geen donasies of vergoeding van enige aard
nie en daarom mag geen openbaring deur haar ontvang hetsy dit op die
internet, in boek of traktaatvorm is, onder enige omstandighede verkoop
word nie. Heeltemal gratis word dit vanuit die Gees ontvang en heeltemal
gratis word dit as waarskuwing en bemoediging in hierdie tyd deurgegee
waar elke leser dit met behulp van die onderskeidingsgees kan ondersoek.


Openbaring 1
Die volgende het ek in my gees ontvang.

30 Mei 2007
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Vraag: Spreek U as die Vader tot profete?
Antwoord: Ek spreek as die Verlosser deur My Gees in die Waarheid.

Vraag: Maar het U nie tot Moses en Elia direk as die Vader gespreek nie?
Antwoord: Ek het as God die Skepper tot Moses in ʼn sigbare vuur gespreek.
Ek het as God die Skepper tot Elia in ʼn onsigbare, maar sintuiglike koel bries
gespreek.

Vraag: In antwoord op my vraag spreek U my aan as "Ek", wie is die "Ek"?
Antwoord: En Ek antwoord jou weereens dieselfde as op vraag een.
Ek spreek tot jou as jou Verlosser deur My Alomvattende Gees in die Waarheid.

Vraag: Hoe moet ek U aanspreek?
Antwoord: My verlossing het jou te beurt geval, jy kan My Abba Vader noem.
Vraag: Ek is bang om tot mense te spreek. Ook is ek onseker oor myself.
Ek is bang dat ek as ʼn valse profeet of leraar in U Naam sal spreek. Hoe herken
ek in myself of andere ʼn valse profeet? (Hier kry ek ʼn gevoel van ʼn effense humor)

Antwoord: My ware profete (lui knegte) het altyd een of ander verskoning
om nie hulle taak te verrig nie. Neem as voorbeeld weereens Moses en Jona.
Om terug te kom tot jou vraag oor die herkenning van ʼn valse profeet, gaan Ek
sonder om uit te brei jou slegs een karaktertrek van so ʼn persoon gee. Hulle is
almal onderlangs op soek na ʼn "stage".

Die woord "onderlangs" verduidelik baie van hierdie bedrieërs se karakter.
Gaan dink daaroor.



Openbaring 2
Beskrywing van die gees en siel.

1 Junie 2007 07:30
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Vraag: Kan ek namens die Gees binne myself spreek? Soms kan ek nie
onderskei wanneer dit die Gees en wanneer dit ek is wat spreek nie.

Antwoord: Wanneer jy geestelik ontwaak het, is jy jou gees en is dit altyd
die Gees wat spreek. Nie net ter wille van jou nie, maar ook ander wat tans
angstig is om hul gees te laat ontwaak, gaan ek jou ʼn oefening gee. Al
hierdie informasie is telkemale aan julle gegee, maar omdat julle soos ʼn
pelgrim is, wat ʼn liggie in ʼn stikdonker nag in die verte sien skyn en hom
daarheen haas, maar soos ʼn dorsteling, wat in die woestyn ʼn lugspieël na
water naloop, maar nooit daar uitkom nie, so bly julle liggie altyd buite bereik.

Om mee te begin, jou gees is losvloeiend van jou wêreld. Dit wil sê, daar
bestaan vir hom geen behoefte in die liggaam op hierdie aarde waarop jou
liggaam woon nie. Indien jy aktief in jou gees wil wees, moet jy nie met jou
aardse verstand probeer dink nie. Ontspan en laat jou gees vry.

Nou kom ons by jou siel, wat die eintlike denker hier op aarde is. Jou liggaam
is haar aarde. Die liggaam se aarde is die aarde waarop ons woon. Die siel wat
midde tussen haar liggaam en haar gees woon, is voortdurend besig met haar
eie sowel as haar liggaam se instandhouding. Die liggaam met haar biljoene
atome, word gevoed en in stand gehou deur haar
materiële wêreld.

Die siel op haar beurt, word gevoed en in stand gehou deur al die geestelike
wat uit hierdie voeding van die materiële wêreld kom. Om dit alles tot die werklike
lewe te bring, moet dit alles tot die Goddelike ontwaking kom. Hier tree die
alomvattende Gees, wat goedgunstiglik aan die mens, deur Sy Vader geskenk is, in.

Kom ons bly voorlopig eers by die siel.
Alles bly altyd die keuse van die siel. Haar fokus op die liggaam is altyd toegespits
op die behoeftes van die liggaam, hetsy dit kos, ontspanning, voortplanting,
behuising, kleding of elke daaglikse behoefte is. Die siel raak so verknog en
verweef met elke behoefte en genot van elke sterflike atoompie van haar sterflike liggaam, dat sy nooit die tyd kry om die nodige lewende voeding wat afkomstig van die Gees is, deur te gee na haarself toe nie.

Die liggaam op sigself, is voortdurend besig om in al sy selle te sterf. Hierdie biljoene
selle wat voortdurend besig is om te herproduseer, herhaal vanaf die bevrugting, die
sterwingsproses. Na die afsterf van die totale liggaam, gaan die siel dus voort met
hierdie herhalende proses om die reeds afgestorwe liggaam te probeer onderhou.

Dit is dan waaruit die ewigheid van ʼn onvolmaakte gees bestaan; dat die siel
voortdurend en herhalend besig is om sy fiktiewe liggaamlike bestaan te reproduseer.
Dit is die ewige dood.

Oefen daarom jou siel daarin om haar los te maak van die alledaagse bestaan en sloer van die vleeslike liggaam, wat in alle gevalle instinkmatig en met die hulp van beter geeste onderhou sal word.

Sy moet daarop fokus om haarself in ʼn ontspanne verhouding, met die vryvloeiende
gees in haarself te verenig waarop sy haarself met die Meester van alle lewe kan
verbind, wat haar op Sy beurt persoonlik na haar behoeftes sal versorg.


Openbaring 3
Die waarheid omtrent die Samaritane

1 Junie 2007 17:45
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Net soos wat die Samaritaanse vrou, nadat sy deur My die waarheid ontvang het,
na die Lewende Water gevra het, so het jy gedoen.
Net so sal daar ʼn tyd kom, dat van jou volksgenote sal glo. Nie omdat jy hierdie
dinge aan hulle vertel het nie maar omdat hulle self eerstehands met My sal kennis
maak.
Kom ons begin by die begin van hierdie groep mense, wat die benaming
Samaritaan te beurt geval het. Net soos wat daar huidiglik groepe onder julle is
wat sterk op hulle oeroorsprong wil staatmaak, was dit in daardie tyd baie
belangrik om te weet waar jy in die huis van Israel gepas het.

Toe – net soos nou, was daar geweldige onderstrominge in die verskillende geledere van ons Israeliete. Rykaards het vir hulself of hulle kinders, die stoele
van Levi bekom deur die klank van geld. Snobisme was aan die orde van die dag.
Minder gegoede burgers moes daarenteen met min wat van die tempel afkomstig was, tevrede wees.

Onmin het ontstaan en ʼn groep het hulle van die tempel afgeskei. In hulle soeke na
die oorspronklike waarheid van Moses, het hulle na die berg van Sinai teruggekeer.
Omdat hulle nou sonder tempel was, het hulle ʼn veragtelike volkie in die oë van
hulle broeders geword.
Wie My egter soek, die sal My vind.

Met My vleeswording het ek dan ook My persoonlike besoek aan hierdie verstote
volkie gebring. Hierdie Samaritaanse vrou, met haar betreurenswaardige verlede
en lewenstyl, was deur My uitgesonder.
Ek het haar persoonlik en alleen te woord gestaan.

As ʼn verstoteling in ʼn verstote gemeenskap, het sy in haarself ʼn groot soeke na
haarself, asook haar Skepper ondervind. Omdat sy, ondanks haar lewenstyl, na
die waarheid binne haarself gesoek het, het die groot voorreg haar te beurt geval
om die Lewende Waarheid in die lewe self te ontmoet. Sy het met hierdie waarheid,
sonder skaamte en in vreugde, dit al hardlopende na haar dorpie uitgejubel.
Gaan jy en doen net so.


Openbaring 4
Die opdrag om te skryf.

1 Junie 2007 23:45
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Ek het die opdrag gekry “skryf”, en ek is bang om te skryf.
Ek het die teenwoordigheid van U verlossingsengel gevoel, wat ons die engel
van die dood noem. Maar daarmee saam het ek ook U vrede ervaar en ook die
gerusstelling dat almal wat in U Naam woon, veilig en geborge by U is. Soos
dit in die dae van die Farao was, so sal dit binnekort op die aarde gaan.
Swyg my siel, want jou God is Koning.

Hongersnood en pessiektes sal soos ’n hongerige sprinkaanplaag oor jou land
en die wêreld gaan. Ween O' aarde, soos ’n dorstige kannibaal sal jy jou voldrink
aan die bloed van jou eie kinders. Die staal wat uit jou ingewande geoes is, sal
deur die ingewande van jou bewoners gaan om die nuttelose lewe terug in die
grond in te herwin. Jou dae wat warmer word, sal winde laat waai, terwyl die
aarde stadiger, dan weer vinniger om sy eie as sal draai. Ween O' kinders van
die lig, want die oes het skraal geword.
Maar verbly jou O Sion, jou God het naby gekom.

Terwyl die winde loei en Satan se oë van woede sal gloei.
Sal ’n groot gejuig van engeleskare op hierdie aarde weerklink.
Want ons Lig, Ons Vreugde, ja ons Vader se Kind
het weer Sy weg na ons aarde gevind.
Die tyd raak min.
Moenie huiwer om jou God te bemin.
Die tyd het naby gekom waar jy Hom sal soek,
maar nêrens meer in jou siel sal vind.

(NS. Ek het vir ’n tyd gevra maar niks gekry nie.)


Openbaring 5
O Sion, jy is my blom.

2 Junie 2007 14:30
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Hoekom is jy in jou eie oë ’n klein dwaas?
Dit terwyl Ek self jou lei.
Jou stewig by die hand gaan vat.
Op verre paaie gaan ons hand aan hand
die lewenspad saam stap.

Wees vrolik en bly
jou Vader is naby.
O Sion, jy is my blom.
Vir jou gaan ek na hierdie wêreld kom.

My maagde wat so trou op my koms bly wag,
jul maak My hart so baie sag.
Terwyl die wêreld in sy oordeel rou,
gaan ek met jou- my Sion trou.

Met harp en siter,
ja speel ook met die simbaal.
My bruid kom ek vir ewig haal.
Trou het ek jou op jou weg bewaar,
O Sion, jy gaan my kind nou baar.
In groot gevare gaan ek jou lewe spaar.
Saam gaan ons wees die volmaakte ouerpaar.

Stewig vasgebind is alle kwaad.
Uitgeroei sal wees die slang se saad.
Sing en wees nou bly,
die hele wêreld raak nou vry.
Heilig, Heilig roep die hele hemelskaar.
Sion het vir God Sy kind gebaar.


Openbaring 6
Die ware wedergeboorte.

2 Junie 2007 21:00
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Jy wil meer omtrent die wedergeboorte weet. Laat ons daarom begin.
Ek is nie net jou Verlosser wat reeds vir jou ’n woning by My voorberei het nie,
maar soos jy reeds weet is Ek die Verloskundige, wat elke treetjie van jou
wedergeboorte met jou meemaak. Soos wat jy ook reeds weet, dat alles
wat in my skeppinge teenwoordig is, in ’n miniatuur vorm, volledig binne
jou teenwoordig was, die dag met jou liggaamlike geboorte op hierdie aarde.

Jy en elkeen het ’n ver pad deur die ewigheid gekom, om weer tot voltooiing
te kan kom, om dit te wees wat julle as volmaakte geeste was voor julle groot
val. Alles binne jou, dit wat jy is, is weer volledig daar. Die finale herrangskikking
van dit alles hang nou van die mens homself af.

Die regte opvoeding van die kind is hier van kardinale belang. Waar dit egter in
sommige gevalle deur omstandighede ontbreek en waar Ek weet dat hierdie
mens oor die volle potensiaal beskik om as een van my kinders uit die stryd
te tree, word daar van My spesiale engelgeeste beskikbaar gestel om bystand
te verleen met die opvoeding van so ’n mens.

Daar moet ’n sekere volwassenheid by die mens intree waar hy tot die besef
moet kom dat hy sekere keuses sal moet maak. Hier begin die hergroepering.
Goed en kwaad word van mekaar geskei en die groot stryd begin. Soos wat
enige geboorte met voorgeboortelike pyne gepaard gaan, net so gaan dit met
die wedergeboorte van die mens maar swaar. Daar is baie kerke, sowel as
sektegroepe wat die mens laat glo dat deur slegs mondelings te bely dat mens
’n wedergebore Christen is, dit heeltemal voldoende is en die taak daarmee
afgehandel is. Hierdie is egter een van die grootste leuens denkbaar en so reg
uit die kraal van Satan homself afkomstig.

Die wedergeboorte is ’n baie delikate proses, wat in bykans alle gevalle eers
na die liggaamlike dood van die mens in die geesteswêreld sy voleinding bereik.
Indien die mens sou besef hoe belangrik die vordering van sy wedergeboorte
op die aarde is, sou hy onafgebroke daaraan aandag gegee het. Soos wat julle
reeds weet, is ’n minuut se vordering in die vlees,
gelykstaande aan ’n honderd, selfs ’n duisend jaar in die wêreld van die gees.

Om terug te keer na dit wat die mens in homself huisves; die siel, wat deur middel
van haar vleeslike liggaam en sintuie, nou volle kontak het met haar materiële
wêreld om haar, is net so in staat om, deur middel van haar gees, met haar
geestelike wêreld in kontak te kom. Die siel in al haar ondenkbare biljoene
geestelike deeltjies, wat bestaan uit die suiwer geestelike wat deur haar
ondenkbare lang terugtog uit die materie losgekom het, moet nou beslis
waar haar liefde en toekoms lê.

Die op sigself dooie liggaam en die daarteenoor lewende Gees, is die twee
pole met die vrykeusende siel tussenin. Van buite wink en lok die materie.
Die siel met al haar sielsdeeltjies, herken haarself daarin en antwoord
met hartstog deur middel van haar materiële liggaam op hierdie verlokking.
Al hoe meer stort sy haarself weer met oorgawe terug in die harde
gevangenskap van ’n soliede wêreld.

Die mens is egter deur die liefde van sy hemelse Vader nie bestem om ’n
voortdurende siklus van herhalende gevangenskap in die materie te
deurgaan nie. Daarom is aan hom die Gees van God geskenk om hom
as Leidsman by te staan om sy weg terug na die Vaderhuis te kan vind,
wat hy eens uit vrye keuse voor die grondlegging van alle skeppinge verlaat
het. Hierdie Gees in die mens is dan die teenvoeter vir die roepstem
van die materie na die siel.

Binne die mens ontstaan daar nou hierdie onverklaarbare drang om homself
in sy eie wese te herken. Daarmee saam wil hy nou ook tot die oorsaak van
sy bestaan, asook sy bewussyn kom. Hy kom tot die gevolgtrekking dat dit
vir hom onmoontlik was om spontaan tot ʼn denkende lewe te kan ontstaan.

Nou begin hy na die Oorsaak van sy bestaan te soek.
Hierdie drang binne die siel is die stem van die Gees homself, wat liefdevol
en sonder enige dwang besig is om sagkens die eens gevalle siel as
volmaakte mens terug na sy Skepper en Vaderhuis te lok.

Wanneer die siel uit eie keuse begin om haar samewerking te gee en met
verlange haar terugtog na haar Vaderhuis aanpak, begin sy dan ook in
eenheid met haar gees, haar wedergeboorte. Om as eindresultaat as ’n
vlekkelose rein wese weer van aangesig tot aangesig voor haar Vader te
kan staan!


Openbaring 7
ʼn Duisend verskonings.

3 Junie 2007 7:00
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
’n Paar kosbare geleenthede het verlore gegaan waar ons die geleentheid
gehad het om ’n gesprek tussen ons op papier neer te pen. Die mens is ywerig
om My tot diens te wees. Met allerhande beloftes wil hy in besit van die een of
ander geestelike gawe kom. Wanneer My Gees van Liefde, dan ook op hom of
haar neerdaal, is hulle skielik lui en met ’n duisend verskonings word die werk
wat aan hulle opgedra is, nie gedoen nie.

Jy het gesoek totdat jy My stem binne jou gevind het. Wie My gevind het,
het ook My volheid gevind. Dit wil sê wanneer Ek daar is, is Ek altyd daar.
Waar en wanneer jy ookal die ore van jou hart open, is My stem daar, maar jy
verkies om dit na jou eie goeddunke te onderdruk.

Die behoeftes van jou liggaam kom altyd eerste. Meeste van die tyd onderdruk
jy My stem vir iets om aan te peusel, dan weer kry jy te koud om uit jou bed te
klim om jou skryfbehoeftes te kry. So gaan daar kosbare woorde deur jou
selfsug verlore. Nou weet jy wat Ek bedoel wanneer ek van my “lui knegte”
praat, wat altyd ’n verskoning het.

Vandag sal jy mense te woord staan en die boodskap wat jy aan hulle moet
gee is dat hulle almal soekers is, hulle is soekers wat in hierdie tye ernstig
na My soek. Ek wil ook dat hulle angstig na My moet soek. Met angs omdat
die tyd min geraak het. ’n Angstige mens soek altyd met haas na sy kosbaarste
voorwerp. Soek My daarom haastig, want weer sê Ek aan julle: Die tyd is min.
Vertel ook aan hulle om die digte gordyne wat voor die Allerheiligste plek in
hulle harte hang, met geweld af te ruk.

Almal soek My met erns, maar nêrens word daar vir My ’n skrefie oopgelaat
sodat Ek met My lig daardeur kan skyn nie. Ek staan lankal voor die deure
van My uitverkore kinders se harte en klop. Maak vir my die deure van julle
harte oop, sodat Ek na binne kan kom.


Openbaring 8
Beskrywing van vandag se
ware gelowiges.
3 Junie 2007 22:00
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Met My menswording hier op aarde meer as 2000 jaar gelede het Ek met My
leerlinge op ʼn rustige oggend wandeling, voor die sonsopkoms, bo-op ʼn
bergtop gaan plaasneem, terwyl die pragtige oggendrooi en koel berglug
die sagte ontwaking van die natuur aankondig en haarself hoorbaar gemaak
het deur die vroeë oggendgeluide van die vrolike getjirp van voëltjies.

Terwyl ʼn nabygeleë fonteintjie ook sy stem laat hoor het met dartelende
kabbelgeluidjies met sy eerste tree as ʼn spruitjie, het Ek met ʼn glimlag
na My Petrus gekyk waar hy gehurk by dieselfde fontein bakhand sy
dors geles het.

Jakobus het opgekyk en ons oë het in ʼn liefdevolle blik ontmoet.
Rustig en stil het Ek en My leerlinge hierdie goue oomblik in My skepping
geniet. My leerlinge was diep onder die indruk oor die voorreg wat hulle
geniet het om in My teenwoordigheid, as Menseseun, saam met My hierdie
oggend te kon deel.

Ek het My hoof opgehef en die volgende tot hulle gespreek:
“My liewe broers, dit wat julle nou vir My voel is baie prysenswaardig,
maar net soos wat hierdie mooi oggend in al sy skoonheid om ons ontwaak,
net so sal daar oor 2000 jaar van nou af van My kinders en julle broers in
hulle liefde vir My ontwaak.

Hulle sal meer geseënd wees as julle wat nou hier by My is.
Julle glo in My omdat julle My in julle midde het. Hulle sal egter in My glo,
bloot in antwoord op die vae verlange wat hulle in hulle harte vir My voel.
Julle het My in My volheid by julle. Hulle sal My slegs in ʼn verslete en
verdraaide ou leer hê. Nogtans sal hulle met geweld die ou waarheid nuut
daaruit tevoorskyn bring.

Hierdie dapper krygers sal met hulle enigste wapen, die Liefde,
hulleself kruisig om so een met My- hulle Vader te kan word. Ek sal self hulle
die ware oë van die lewe open om My, hul Vader in hul midde te kan aanskou.

My nuwe verbondsark sal in hulle voltooi wees, sodat My nuwe aarde in
hulle vervolmaak sal word. Let dus goed op die ontwaking van hierdie oggend
en dink aan julle broers wie julle in daardie tyd in die gees bystand sal bied.


Openbaring 9
Sy Naam.

4 Junie 2007 13:30
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Vraag: Wat is die korrekte aanspreekvorm van die naam wat U op aarde
gedra het?

Antwoord: En ek antwoord jou die volgende: Twee broers behoort by
die aanhoor van My Naam, mekaar om die hals te val en van hulle te
oorgroot liefde vir My en omdat hulle nie weet wat om met hierdie liefde
te doen nie, dit wedersyds op mekaar uit te stort.

Die noem van My Naam het egter deesdae die grootste twispunt en dit
nogal onder broers van dieselfde bloedlyn geword. Daar is onnoembare
baie tale asook dialekte, nou sowel as in die verlede, waarvan sommige
al uitgesterf het. Met die verskillende tongval en klanke het My Naam met
sy swerftog deur die eeue heen, tussen verskillende nasies en volkere
dikwels ’n nuwe nuanse ondergaan. Elk van hierdie groepe wou dan ook
trots verklaar dat hulle alleen die korrekte gebruikers van My Naam was.

Huidiglik het dit so ’n twispunt by sommiges van julle geword dat Ek
verkies om My Heilige Naam nie verder deur julle te laat ontheilig nie.
Die opregte gebruiker van My Naam is die een wat dit met die grootste
liefde vir My in sy hart uitspreek. So is vir My dan ook die een wat My Naam
die meeste oneer aandoen, die een wat met sy broeder daaroor twis.
In geen geval gaan Ek daar teenwoordig wees, waar daar oor My Naam
getwis en geredekawel word nie. Daarom sal Ek Myself kenbaar maak as
jou Vader.
Leer daarom dat die korrekte uitspraak van My Naam die Liefde is.


Openbaring 10
Die Vader se plek in ons lewens.

6 Junie 2007 07:30
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
My stem het gisteraand stil binne jou geword en hartseer het jy gedink
dat Ek jou verlaat het. Dit is maar net nog ’n paar dae wat jy van My Stem
binne jou hart bewus is. ’n Groot treurigheid het oor jou gekom nadat
hierdie groot gevoel van verlies hom meester van jou gemaak het.
Waar is U? het jy in jou hart uitgeroep en Ek het jou langsamerhand
geantwoord:

Ek is ’n jaloerse God wat Myself nie sal laat deel met jou wêreldse
gedagtes nie. Terwyl jy gisteraand hierdie diep drang binne jouself ondervind
het om alleen met My, jou Vader in die privaatheid van jou kamer, in die
binnekamer van jou
hart met My te kan praat, het jy verkies om ander se gevoelens te spaar en
eerder ’n video saam met hulle te kyk.

Ek is nie ’n skakelaar wat jy na eie willekeur kan aan- en afskakel nie.
Jy het ’n ver en moeilike pad gekom om ’n sekere mate van suiwerheid te
bereik, wat geweldig deur My barmhartigheid en genade aangevul is,
sodat jy My Stem in jou binneste kan hoor. Dit bly steeds jou vrye keuse
om te besluit of jy My of die wêreld om jou wil aanhang.

Ek is egter ’n enige God wat My nie sal laat vermeng met dit wat van die
wêreld is nie. Dit is waarom so baie My kwansuis hartstogtelik soek,
maar nooit kan vind nie, deurdat hulle My met hulle wêreld van woeker
en vermaak wil deel, waar Ek ’n tweedehandse en minderwaardige
posisie moet inneem en almal My ’n twyfelagtige ou plekkie in ’n besige
skedule wil gee. Daarna heel ingenome by hulleself dink dat Ek nou moet
hande klap oor die krummeltjies wat na My, hulle Vader, se kant toe geskiet word.

Die tyd nader vinnig dat Ek die deure van My ark gaan sluit. Wie hierna
tevergeefs daaraan gaan hamer en in benoudheid gaan uitroep:
“Maak die deure vir ons oop sodat ons na binne kan kom. Het ons nie
in U Naam dit en dat gedoen nie”, gaan van My die volgende bekende
antwoord kry:
“Gaan weg van My af. Ek ken julle nie”.