e-pos  judithdebeer@webmail.co.za

                openbaringe@yahoo.com 

 

Judith de Beer is ’n eindtyd boodskapper wat onder geen leiding van enige

menslike denkrigting staan of aan enige organisasie, instansie, sekte of

kerk behoort nie. Sy ontvang geen donasies of vergoeding van enige aard

nie en daarom mag geen openbaring deur haar ontvang hetsy dit op die

internet, in boek- of traktaatvorm is, onder enige omstandighede verkoop

word nie. Heeltemal gratis word dit vanuit die Gees ontvang en heeltemal

gratis word dit as waarskuwing en bemoediging in hierdie tyd deurgegee

waar elke leser dit met behulp van die onderskeidingsgees kan ondersoek.


Openbaring 161
Julle grootste geskenk.

31 Oktober 2007 16:00
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Behalwe die Godgegewe lewe, is My grootste geskenk aan die mens sy vrye wil. Met die woord "natuur" word nie net die aarde met sy omgewing bedoel nie, maar alles
wat natuurlik is.

Dit sluit alle materiële wêrelde van alle kosmosse van die oneindigheid in; ja, vanaf
die heel kleinste organismetjie tot en met die heel grootste heelal son. Selfs die lug
en die oneindige ruimtes bestaan uit materiële substansies en alle bestaande materie, hetsy dit in ʼn oënskynlike onbeweeglike dooie toestand is, of as bewegende lewende organismes daar is, dit is altyd aan My ordewet onderworpe.

Neem as voorbeeld die mees onsienlike waterdeeltjies wat hoe klein ookal, die volledige eienskappe van water bevat. Hoe veranderlik die toestand daarvan
ookal is, of dit nou stoom, vloeistof of ys is, die basis is en sal altyd water bly. Aan
ʼn wingerd gaan mens druiwe kry. ʼn Hoenderhen gaan eiers lê en so opereer alles
in hulle onderskeie vasgestelde ordes.

Maar aan elke mens het Ek ʼn vrye wil geskenk, waarmee hy na sy goeddunke kan handel. Vinnig sal iemand nou sê, wat van ʼn persoon wat teen sy wil gedwing word om iets te doen. Hier antwoord Ek dat ook die natuurlike liggaam in al sy selle en atome as materie, onder presies dieselfde orde en wet as alle ander materiële substansies val en daarom aan die dwang en ook die dood onderworpe is.

Maar die ongebonde menslike gees is met die Goddelike vryheid toegerus,
om deur middel van sy bewussyn en denke, onafhanklike besluite namens homself, hetsy dit goed of kwaad is, te kan neem, wat aan die einde van die mens se lewe sy ewigheidsbestaan sal bepaal.

Oral is invloede van goed en kwaad wat die mens se vryheidswil prikkel en stimuleer. Sodat hy vir homself besluite kan neem. Hier is My Onderskeidingsgees van kardinale belang en op aanvraag, skenk Ek dit graag aan diegene wat dit begeer.


Openbaring 162
Groei in die Liefdevolle genade.

1 November 2007 9:10

http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Eenmaal het daar twee manne gegaan om te aanbid.
Selfverheffend het die een, vir almal om te kan sien en ook om sy sondige broer te manipuleer, homself vir God aangebied. Terwyl die ander sy sondige hoof in skaamte voor My laat hang het, om in opregte berou vir verlossing nader te staan Elkeen weet watter een van die twee My genade ontvang het.

So kom vele leerstellings en leraars met die vagevuur en die verdoemenis, om fisiese en denkbeeldige bloeiende Christusfigure by die mens te kan opwek, om sodoende elke gelowige die gevoel te gee, dat hy of sy persoonlik verantwoordelik vir My kruisdood was. So manipuleer hulle die mens deur ʼn wanaangepaste gewete en onnodige skuldgevoelens.

Aan My geliefdes wil Ek egter sê dat daar die van Myne was, wat hartseer en magteloos daar rondgestaan het en heeltemal onskuldig aan My kruisdood was.
Ook vir hulle het Ek tot verlossing gesterf. Groei daarom tot geestelike volwassenheid in die liefdevolle verlossende genade van My kruisdood en moet nie deur skuldgevoelens en dwang julleself probeer regverdig nie.


Altyd is Ek daarop gefokus om julle in Liefde vry te maak en nooit sal Ek julle aan enige bindinge of dwang onderwerp nie. Iets wat gebind is, is nie tot groei in staat nie.


Openbaring 163
Die verskil tussen nederigheid en kruiperigheid.

Vrydag 2 November 2007 13:30
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Die woord nederig moet nie gedefinieer word met die laagste denkbare klein wurmpie wat homself magteloos in die stof van die aarde bevind nie. Om nederig te wees beteken om jouself nooit bo jou naaste aan te stel of te verhef nie, maar jou plek voor jou God en Skepper te ken.

Enige mens wat homself die nodige outoriteit aanmaan om sy medemense ernstig
oor die nederigheid aan te spreek het self ʼn probleem deurdat hy homself ongevraag aanstel. Die opregte nederige sal sonder enige ophef of baie woorde, sy nederigheid voor sy medemens as praktiese voorbeeld uitleef.

Daar is ook ʼn hemelsbreë verskil tussen die nederigheid en om te kruip.
Nederigheid en opregtheid loop hand aan hand, terwyl kruip en valsheid ʼn bose paar vanuit die hel is.



Openbaring 164
Waak teen soetklinkende woorde.

Saterdag 3 November 2007 11:00
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Vanuit die mees soete volmaakte blom, kom daar baie maal die dodelikste gif na vore en net so berg ʼn onaansienlike struik soms die mees genesende en helende eienskappe binne homself. Waak daarom teen die soetklinkende woorde wat na die ewige verderf lok en skryf die soms seer tugtigende woorde wat na My en die volmaaktheid lei, op die tafels van julle harte neer. Waar hulle soos kosbare pêrels in julle eie unieke persoonlikhede sal ontwikkel en sal groei tot kosbare versierings vir julle ewige Goddelike woonhuis in die nuwe Jerusalem.


Openbaring 165
Die regte beeld.

Saterdag 3 November 2007
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Kyk, Ek kom soos ʼn tweeledige dief in jul lewensnag. Ja soos ʼn dubbele visie sal Ek voor jou aangesig kom staan. By jou naam sal Ek jou persoonlik roep met die opdrag "volg My".

Terwyl die beeld voor die oë van die mens in twee verskillende rigtings vanuit mekaar sal gaan, sal Ek in slegs een van daardie twee beelde wees…

Hoe sal een nou weet of hy My of die illusie op sy ewigheidsweg gaan vind.
Oefen jou daarom deeglik in die Waarheid en die Liefde. Maak My die Minnaar van jou hart en in die wegwyser van die Liefde, sal jy My, jou Skepper en Verlosser vind.

 

Openbaring 166
Visioen oor swart krygers.

Maandag 5 November 2007
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Net voordat ek aan die slaap geraak het, het ek die volgende gesig gehad.
Rye en rye swart krygers wat in volle tradisionele oorlogsgewaad in netjiese rye gehurk sit en aandagtig na iemand luister. Elkeen het ʼn wit volstruisveer op sy kop.

Ek het hierna aan die slaap geraak om ure daarna wakker te skrik met die woord "SAVAGE" in groot vet blinkende hoofletters oor my hele kamer geskryf. Ek het ʼn geweldige angsaanval ervaar.



Openbaring 167
Wie sy lewe liefhet.

Dinsdag 6 November 2007
http://www.openbaringe.co.za/
 

Judith de Beer
Die einde of dood van ʼn verlossingsperiode is die afsluiting van dit wat was en nooit weer sal wees nie. Ja, dit is die sterwensproses wat ʼn nuwe geboorte voorafgaan. Daar is baie onder die mense wat met bloeddorstige opgewonde afwagting, uitsien
na die sensasionele einde van die wêreld en die vernietiging van biljoene lewens. Dit, terwyl hulle hulself in hul eie aangestelde volmaaktheid, as die alleen oorlewendes en daarom die alleen erfgename van die aarde beskou en verhef hulself daarom tot die Goddelike uitverkorenes.

Dit is aan hierdies wat Ek sê; "Die een wat bereid is om sy lewe terwille van My af te lê, die sal dit vir ewig win".


Openbaring 168
Die ewige onsterflikheid.

Woensdag 7 November 2007 9:00
http://www.openbaringe.co.za/
 

Judith de Beer
In die mens se identifisering van homself, sowel as sy soeke na die volmaakte Godheid, is hy inderwaarheid op soek na die ewige onsterflikheid binne homself.

Wie kan sy vinger op ʼn spesifieke plek op hierdie planeet druk en sê,
hier is die middelpunt, want waar die mens ookal op ʼn ronde bal druk,
daar is dit altyd die middelpunt. So is die middelpunt en hartklop in die onmeetlike eindeloosheid van die ewigheid, altyd gesentreerd in die lewensvonk van elke denke- bewussyn wat van homself, as ʼn onsterflike identiteit bewus is.

Namate elke mens meer tot sy ontwikkeling kom, sal daar altyd gestreef word na dit wat gelyksoortig aan sy wese is en goed en kwaad sal beide in een lewe na vore tree. Dit wat die oorheersende faktor is, daarmee sal die wese homself binne sowel as buite mee verbind.

In die kwaad sal die mens homself van die Godheid skei, om in ʼn bevryde toestand
vir ewig van God af weg te dryf. Waar die mens weer in die Waarheid, homself binne
sy sentrum, hegter met die oerewige Lig van Lewe en Liefde sal verbind, om so tot ʼn volmaakte lewe, in eenheid met My- sy God en Skepper te kan kom.


Openbaring 169
Die swaard van verdeling.

Donderdag 8 November 2007 7:00
http://www.openbaringe.co.za/
 

Judith de Beer
Net soos met My menswording tweeduisend jaar gelede kom Ek nie om vrede te
bring nie. Ek kom met die swaard van verdeling en reiniging.
Ek sal alles wat onsuiwer is vanuit julle midde sny. Ouer en kind, ja, broer en suster
sal teenoor mekaar staan en terwyl die leuen vir ewig in die stof van die aarde sal bly lê, sal die waarheid as die alleen oorwinnaar oor alle skeppinge en ewighede bly
staan.

Ook sal Ek My swaard van twyfel herhaalde male tot reiniging in My uitverkorenes inslaan. Kragtig en gelouter sal hulle na vele beproewinge, met ʼn sterk en ʼn onbuigbare geloof, ewig vir My hul Vader, as koningskinders, oor al My skeppinge
bly staan.


Openbaring 170
Selfs My uitverkorenes is lou.

Vrydag 9 November 2007 8:00
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
In My Almag hand sal Ek My babakind veilig vashou,
terwyl Ek met My ander hand hom saggies sal omvou.

Terwyl die aarde vergaan in diep berou,
sal klein Sion soos ʼn kindjie aan My soom vasklou.

Rooi sal wees die gloed wat om die wêreld vou,
terwyl menigtes in angs hul lippe stukkend sal kou.

Terwyl almal sal ween en rou,
gaan daar nêrens iemand wees,
wat vir die dooies ʼn graf gaan grou.

Steeds is daar niemand met enige berou.
Selfs My uitverkorenes is maar baie lou.