e-pos  judithdebeer@webmail.co.za

                openbaringe@yahoo.com  

 

Judith de Beer is ’n eindtyd boodskapper wat onder geen leiding van enige

menslike denkrigting staan of aan enige organisasie, instansie, sekte of

kerk behoort nie. Sy ontvang geen donasies of vergoeding van enige aard

nie en daarom mag geen openbaring deur haar ontvang hetsy dit op die

internet, in boek- of traktaatvorm is, onder enige omstandighede verkoop

word nie. Heeltemal gratis word dit vanuit die Gees ontvang en heeltemal

gratis word dit as waarskuwing en bemoediging in hierdie tyd deurgegee

waar elke leser dit met behulp van die onderskeidingsgees kan ondersoek.

Openbaring 151
Blinde navolgers van verdraaide leerstellings.

20 Oktober 2007 6:30

http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Net soos aan My leerlinge van ouds sê Ek aan julle:
Wie My in hierdie tye vanuit die opregte liefde van jul harte wil volg, volg My. Ook aan die blindes wat aan die hand van ewe blinde wêreldkinders wil ronddwaal, doen ook julle, volgens die keuse van julle vrye wil.

Die wêreldbevolking bestaan huidiglik meestal uit ʼn klomp gestagneerde
navolgers, wat dit wat hul meester, die Wêreldmoondhede, as treffer van
die dag vir hulle aanbied, of dit nou die politiek, tegnologie, mode of die geloof is, slaafs navolg.

 My kinders het Ek op hierdie aarde as kreatiewe vindingryke wesens geplaas, wat deurentyd met nuwe gedagtes en idees na vore kan kom en die vermoë het om op eie stoom te kan ontwikkel. Een van die redes dat julle volkie die hele tyd besig is om koppe te stamp, is juis as gevolg van die feit dat bykans almal onder julle ook met sterk leierseienskappe toegerus is.

Daarom sal die van julle, wat tot die geestelike eindronde van hierdie
getraumatiseerde eindtye, in My Naam sal kan deurdring, deel uitmaak van My Melgisédek orde, wat niks anders sal wees as ʼn geestelike wêreldse parlement, bestaande uit Goddelike koningskinders nie. Wees daarom kreatiewe kinders van God, wat My, julle Verlosser, keer op keer nuut en lewend, vanuit julle harte aan julle naastes sal voorstel.

Ja, leef volgens julle eie unieke standaarde en karakters en moenie blinde navolgers van verdraaide leerstellings wees nie. Staan in hierdie tye soos Daniël van ouds vas en moet julle knieë nie voor een enkele faset van die wêreldmoondhede se vele afgode buig nie.


Openbaring 152
Soort sal soort vind.

22 Oktober 2007 5:00
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
In die skrif staan daar geskryf dat twee mossies se waarde gelykstaande aan ʼn onbeduidende muntstuk is, maar Ek sê aan julle dat in hierdie dae, ʼn enkele mossie meer werd as baie menselewens gaan wees.

Ek het gewaarsku; ʼn sluipmoord word beplan en dit het in vervulling gegaan. In ʼn bomaanval, het baie met hul lewe betaal en dit is bloot die begin. Sluipmoord en staatsgreep gaan aan die orde van die dag raak.

In die toekoms gaan niemand nêrens meer op veiligheid kan aanspraak maak nie.

Soos wat die tyd lankal nie meer rustig aanstap nie, maar net vinniger voortsnel, so sal kataklisme en onbeheerste waansin, soos ʼn liefdespaar, hand aan hand, oor die oppervlakte van die aarde gaan.

Goed of kwaad – soort sal soort vind.
Spontaan sal daar oral groepe en bendes ontstaan en baie regerings sal beheer en ook hul mag verloor. Die oorlewingswet van die natuur, die sterkste sal oorwin, sal oral aanklank vind en daar sal onder die mense ʼn verdrukking wees soos wat daar nog nooit voorheen was, of ooit weer sal wees. Op die einde van die dag sal goed en kwaad, as twee groepe vir oulaas teenoor mekaar staan.

As aanvangsteken sal daar wees- ʼn ongekende muskiet- en muggieplaag.


Openbaring 153
Hongersnood en pes as verwoester.

23 Oktober 2007 6:00
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Hongersnood en pes sal as verwoester oor die aarde staan.
Maer sal wees die koei en koringaar, van die aarde se teëspoed jaar.
Met ʼn ongekende pes sal God se doodsengel oor die aarde gaan.
Verdrietig gaan die mens alleen daar staan.
Niemand gaan hom aan sy sy kom skaar.

Warm sal die winde oor die oppervlakte van die Aarde gaan.
Swart sal wees die kiem van elke koringaar.
Bakhand sal regerings bymekaar kom staan.
In goeie jare het hulle weinig opgegaar.
Honger en wanhopig sal die hoop in vele oë stadig wegtaan.
Star sal kinderoë in ʼn hongerdood vir ewig die niet in staar.


Openbaring 154
Abba Vader is nie tydsgebonde nie.

24 Oktober 2007 8:30
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Meer as tweeduisend jaar gelede is daar van my gesê dat Ek van die duiwel besete en kranksinnig is, maar ander het beweer dat dit onmoontlik vir die duiwel is om die oë van blindes te kan open.  Baie woorde wat deur My aan jou gegee is, het reeds en sal by herhaling weer in vervulling gaan.

Ook die woorde dat mense jou nog erge dinge in die toekoms sal wil aandoen, is besig om in vervulling te gaan. Weer sê Ek vir jou: steur jou nie te veel daaraan nie. Ek is nie tydgebonde nie.

Ja, alle tye is aan My wil onderwerp en elke woord, in welke tydvak deur My gespreek, is klaar ʼn volbringde daad en sal in hierdie tyd van alle tye in vervulling gaan. My skape ken My stem en deeglik toegerus met My onderskeidingsgees, sal hulle wel die waarheid ken. So sal hulle onderskeid kan tref tussen leë holrug geryde woorde en My daadwerklike Woord.

Daarom sê Ek weer, Ek is die Lewende Brood wat uit die Hemel in ontvanklike harte neerdaal en wie van hierdie Brood eet, sal tot in ewigheid leef.


Openbaring 155
Versteurde ordes in die waters.

25 Oktober 2007 8:00
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Deur voortdurende wisselende temperatuurvlakke, is versteurings besig om teen ʼn geweldige tempo in die oseane van die aarde plaas te vind, wat die delikate balans van die suurstofvlakke binne die waters van die aarde erg versteur.

Deur versnelde ontbindingsprosesse van mikroskopiese en groter organismes, is die see besig om homself te vergiftig. Soos ʼn omgekrapte maag, wat van sy eie besoedeling ontslae wil raak, sal die seë massas seediere en vis op wêreldstrande uitbraak. Ja, bloedig sal die seë deur rooigety die mens ʼn les kom leer.


Openbaring 156
Daarvoor is julle heeltemal te lig bevind.

26 Oktober 2007 12:00
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Die mense wat vir aardse voordeel daarop aanspraak maak om as een kudde, onder die veiligheid van ʼn eenwêreldorde te wil staan, het met hul keuse, ʼn skeiding tussen hulle siel en My Gees gemaak.

Ja, ywerig het baie Israelkind met die wêreld saam flankeer. Wyn gedrink en met die god van handel gehoereer. Vele male het Ek die wêreld dringend vermaan,
om nooit op hul knieë voor Mammon te gaan staan.

Maar enkel en alleen het slegs My kleine Sion vir haar God bly staan. Daarom sal daar vir die wêreldling, teen die gruwelmuur van Babilon, die oordeelwoorde in hierdie eindtyd staan; Op ʼn skaal is jul vir God se koninkryk gebring. Sorgvuldig is jul met jul dade afgeweeg; as inwoners van My nuwe stad Jerusalem, daarvoor is julle heeltemal te lig bevind.



Openbaring 157
Ek kom soos ʼn dief.

27 Oktober 2007 5:00
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Vir duisende jare is daar geprofeteer oor dit wat vandag in jul midde gebeur, maar
vrolik gaan die mens sy gang. Vir niks en niemand is hy enigsins bang. Verkeerdelik dink die mens dat Ek hom in sy dag van vrees, veilig gaan vang.

Reeds is die hele wêreld midde-in groot gebeure en skrikwekkende tye, maar steeds is die ganse mensdom in ʼn dooie slaap. Wanneer gaan My stem tot die mens deurdring, sodat hulle kan ontwaak? Daarom sal Ek My maar weer herhaal. Wie ore het om te hoor: laat hom hoor. In die middel van dit waarmee julle besig is, sal julle skielik oorval word.

Kyk, Ek kom soos ʼn dief in julle dooie lewensnag. Nêrens gaan daar ʼn lig wees wat sal skyn in julle eensame geestelike nag.


Openbaring 158
Wee die mens in hierdie grote dag!

28 Oktober 2007 14:00
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Vreesloos sal My uitverkorenes, op die teëspoed dag van alle dae, as alleen-oorwinnaars in My grote Naam bly staan. Verwonderd sal hulle met hul oë die groot vernietiging van ʼn bose mensgemaakte wêreld aanskou. Woedend sal die Moederaarde bewe. Haar kinders wat soos parasiete aan haar klou, die sal die hemelliggaam in afsku van haar skud.

Alles deur mensehande opgebou, die sal sy in haar ingewande vou. Ontslae van hierdie hinderlike las, sal sy haarself van alle gruwels skoon wil was. Met lawavuur sal sy haar eie oppervlakte skoon laat brand. In skrik en bewing sal die grotes van die aarde, hulself in spelonke skuil wil hou. Saggies sal hul bewend, oor die groot verwoesting van die aarde rou. Smekend sal hul die hande, hulpeloos na ʼn onsigbare god uithou.

Ja, op hierdie teëspoed dag, sal Sion ongeskonde, as alleen oorwinnaar in My grote Naam bly staan. As ʼn skone paradys sal die aarde haarself weer voor hul oë ontvou. ʼn Goddelike koninkryk, die sal My koningskinders weer op die nuwe aarde bou.


Openbaring 159
By ʼn gevalle Babilon se riviere.

29 Oktober 2007 10:45
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Vertrap en verslaaf was My volk in Egipte.
Deur ʼn eed aan hul vaders het Ek ʼn land van melk en heuning aan hul beloof. Getrou aan My woord het Ek ʼn gereinigde nageslag na die beloofde land gebring. Verslae het weer hul nageslag, by die riviere van Babilon gesit, treurig was die klaaglied wat hul laat opklink het na My Vaderoor.

Ja, ʼn verstrooide volk het Ek telkemale met My eie Vaderhande bymekaar gemaak. So het Ek deur al die eeue My volk van "val en opstaan" bygestaan. In hierdie tyd van alle tye, waarin die mens homself bevind, begin daar weer vanuit ʼn verstrooide volk se swaarmoedige midde, die eerste rou klanke van ʼn klaaglied opklink na My oor. Spoedig sal dit van ʼn eenmanslied oorgaan tot ʼn volk se koor.

By ʼn gevalle Babilon se riviere, sal ʼn verslae volkie weereens sit. Hartseer sal hul lied se tone opklink in My Vaderoor. Op hul lied sal Ek gehoor gee, hul klaagtoon met My Liefde aanhoor. Weereens sal Ek My oor My volk ontferm. Die plaag wat Ek oor die wêreld bring, die sal Ek van My ware, uitverkore kind afwend.

 

Openbaring 160
Moet nie baie leermeesters wil wees nie.

30 Oktober 2007 8:00
http://www.openbaringe.co.za/

Judith de Beer
Elke mens is met ʼn vrye wil toegerus om sodoende tot die volle potensiaal in sy eie karakter en identiteit te kan ontwikkel. Stel My daarom deur die nodige liefde en kennis aan mekaar bekend en nie deur middel van baie verwarrende leerstellings nie.

Die Babelse verwarring wat huidiglik onder die Christendom heers, is toe te skryf aan bogenoemde. Satan se wenresep bestaan juis daaruit, deur daar waar eendrag heers, chaos en verwarring te skep. Die dilemma waarin julle volk hom tans bevind is ʼn uitstekende voorbeeld hiervan.

Die wêreld staan op die vooraand van ʼn oorlog wat ʼn globale impak wêreldwyd en op elke land en indiwidu kan hê. Die mens se sterkste wapen gaan juis in die standvastige selfdissipline, gebore vanuit ʼn sterk en kerngesonde geloof, lê.

Om hierdie twee eienskappe op eie inisiatief en keuse deel van die karakter
te maak, sal verseker dat elke mens se sterkste eienskappe na vore sal tree. Wat in hierdie komende krisistye, nie net vir hom of haarself tot voordeel sal wees nie, maar ook vir die naaste.